Taal

Teken In

Verjaarsdae

Sondag, 15 Oktober

Jean Lombard

Rizanne Du Preez

Maandag, 16 Oktober

Francois Serfontein

Michelle Coetsee

Dinsdag, 17 Oktober

Hilmer Backer

Colette Heunes

Richard Bird

Nathan Von Ronge

Jonita De Villiers (70)

Ria Bosman (81)

Woensdag, 18 Oktober

Morné Viljoen

Elsabé Coetzee

Marieta Reyneke

Koos Saayman (74)

Babsie Pretorius (77)

Donderdag, 19 Oktober

Henk De Weerdt

Vrydag, 20 Oktober

Sanette Schutte

Etienne Van Der Merwe

Saterdag, 21 Oktober

Danelle Du Toit

Chris Turner

Dawie Du Toit

Chris Hattingh

 

Verdudelik asb of ons uit liggaam, siel en gees bestaan?

Vraag: Verdudelik asb vir my of ons uit liggaam, siel en gees bestaan? Of is die siel en liggaam dalk dieselfde betekenis as "mens"?  Ek wil ook weet of die gees gedeelte is waar God se gees in ons werk en of ons gees of siel as ons doodgaan na Christus toe gaan?  Baie dankie en seën!

Antwoord:  Kom ons begin by wat die Bybel sê oor die skepping van die mens.  Ons lees daarvan in Genesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese (letterlik: “lewende siel”) geword het”.

Hieruit kan ons die volgende afleidings maak:

• Die mens is ‘n eenheidswese.  Toe hy/sy gemaak is, is hulle tegelykertyd liggaam en siel gemaak.  Dus van konsepsie af (toe die eiersel en saadsel aan mekaar gebind het), is die mens liggaam en siel.  In hierdie fetus is alles opgesluit wat die mens in geheel uiteindelik sal wees.
Ook uit Ps.139:13 is dit duidelik dat die mens ‘n eenheidswese van konsepsie af is: “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder”.  Die Here het nie ‘n liggaam gemaak en op ‘n latere stadium (na geboorte) aan hom/haar ‘n siel gegee, maar van die begin het Hy “my” (dus, as ‘n “iemand”, nie ‘n “iets” nie) gemaak. 

• Die Bybel maak nie ‘n skerp skeiding tussen liggaam en siel, asof liggaam en siel twee “dele” is waaruit die mens bestaan, nie.  Maar bedoel telkens die mens in geheel, as lewende wese.  Selfs wanneer na die mens verwys word in sy “liggaamlikheid” word die hele mens bedoel. (vgl. 1 Kor.6:13: “’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie”; en Rom.12:1 (letterlik): “dat julle jul liggame stel as lewende en heilige offers”. 
Net so ook praat die Bybel van “siel”.  Vgl. Joh.10:11: “die goeie Herder lê sy lewe (letterlik: sy siel) af vir sy skape”.  Jesus het tog as volledige Mens aan die kruis gesterf.  En, in Hd.20:10 (letterlik vertaal): “want sy siel is in hom” (“hy lewe”, volgens 1983-vertaling).
Dus, verwysing na die liggaam en/of siel is eintlik ‘n verwysing na die mens as geheel (soos wat jy dit in jou vraag self raaksien).

• Al hierdie Skrifgedeeltes bloot om aan te toon dat dit nie voldoende (en volledig) is om te sê: ‘n mens het ‘n siel; of is ‘n siel nie.  Net so ook: dat ‘n mens nie ‘n liggaam het of ‘n liggaam is nie.  As ons bv. sou sê: ‘n mens het ‘n siel, word die afstand tussen die “ek” (soos ek as mens geskape is) en die siel te groot – asof ek kan lewe sonder my siel.  En as ons sou sê: ek is my siel, laat dit die mens opgaan in sy siel-wees, terwyl hy/sy ook nog ‘n liggaam is en liggaam het.

• Die verste wat ons behoort te gaan is om te sê die mense lewe, en die lewe van die mens is sy lewe as liggaam en siel.  Dus, slegs ‘n onderskeiding van die buitekant en binnekant, die waarneembare en nie-waarneembare.  Liggaam en siel is eerder in-mekaar as wat dit naas mekaar bestaan.

• Nog ‘n onderskeiding wat die Bybel ten opsigte van die mens maak (waarna jy vra), is “gees”.  “Mag God... julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar...” (1 Tes.5:23).
“Gees” wys egter ook nie op ‘n derde (ge)deel(te) van die mens nie, maar gee ‘n beskrywing van die wyse waarop die mens (as liggaam en siel) bestaan.  Dit wys op die totale geestelike (religieuse) lewensinrigting en –ingesteldheid van die mens wat hom deur God se Heilige Gees laat lei, of nie laat lei nie.  Die Bybel ken net één mens, en dit is die totale mens wat in sy totaliteit van God afhanklik is – of hy/sy daarvan (in die geloof) bewus is, of in ongeloof Hom verwerp.
Die gees van die mens is dus inderdaad die “ruimte” (nie soseer die “gedeelte” nie), maar die “werksveld” (by gebrek aan ‘n beter woord”) waar die Heilige Gees in die mens werk.  Lees gerus 1 Korintiërs 2:10-12:
10Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11Watter mens ken die verborge dinge van ’n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.
Die argument is soos volg: net soos wat die gees van ‘n mens die intiemste/ verborge dinge (geestelike “bestaanswyse”) van die mens ken, net so ken slegs God se Gees die “diepste geheimenisse van God”, dws. wie/hoe Hy is en wat Hy doen.  Hierdie Gees van God woon in elke gelowige en openbaar die diepste geheimenisse van God (verlossing deur Jesus Christus se kruisiging) in die mens se gees, dws. in die diepste religieuse bestaan van die mens.

• Hierdie eenheid (van liggaam en siel) word verbreek slegs by die dood, as gevolg van die skeiding van liggaam en siel.  Die siel word onmiddellik deur God geoordeel en verkeer in die “doderyk” – vir gelowiges is dit by God in die (voorlopige) hemelse saligheid (wat die “finale” bestaanswyse van die gees  van die mens is (Pred.12:7).  Vir die  ongelowiges is dit in die (voorlopige) helse smart (Luk.16:22-23).  Met Jesus se wederkoms sal al die grafte oopgaan en die liggame opstaan en weer met die siel herenig word (Fil.3:20-21; 1 Tes.4:16-17).  Hoe dit presies gaan gebeur, is die Bybel nie duidelik oor nie.  Dit bly ‘n goddelike misterie, wat ek met verwagting en vreugde afwag.

Ek hoop dat ek hiermee jou vraag beantwoord het.  Laat gerus weer van jou hoor as jy nog verder hieroor wil gesels.

Ds Charl van Rooy

Is dit verkeerd om die Koran te lees?

Vraag:  Ek lees die Koran-veral oor Abraham en Ismael. Ek het ook 'n insiggewende stuk oor manna daar gelees. Ek is bewus van
Gereformeerde predikante wat dit ook doen.Is dit verkeerd?

Antwoord:  Ek dink dit wat ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die verskil tussen die Kanonnieke en die Apokriewe Boeke bely, kan ons help om op die vraag oor die Koran te antwoord, al is die Koran beslis nie ‘n “apokriewe boek “ nie.
In NGB Art 6 sê ons dat die kerk die apokriewe boeke wel mag lees en daaruit lering trek in soverre hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.” Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die christelike godsdiens sou bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die …heilige boeke afbreek doen nie.”
Dis vir christene nie verkeerd om boeke oor ander gelowe of die geloofsboeke van ander godsdienste te lees nie. In baie sulke boeke soos in die apokriewe boeke, en ook in die Koran, kry ‘n mens interessante historiese gegewens en inligting oor gebruike in vroeër tye.
 
Maar ons weet dat die Koran vanuit ‘n bepaalde geloofsoortuiging geskryf is, Mohammed as profeet en boodskapper van Allah beskou, en Ismael  as die seun van Abraham wat die draer was van die Islam. In die Koran is Mohammed die laaste en grootste van die profete en is Islam die ware godsdiens.
Dis nie moontlik om die Koran en die Bybel as gelykwaardige boeke te beskou waaruit ons die ware God, die Vader van ons Here Jesus ken nie.
Uit die Koran leer ons die Islam ken as die godsdiens wat Allah glo deur Mohammed voorgeskryf het.
Uit die Bybel leer ons God ken wat Hom in Jesus openbaar as ons Vader in die hemel.
 
Om die Islam beter te kan ken (wat in ons tyd en ons land baie nodig is!) en ter wille van die interessantheid daarvan is dit nie verkeerd om die Koran te lees nie. Dis die enigste rede waarom ek al dikwels vertalings van die Koran gelees het, en is sekerlik ook die enigste rede waarom ander predikante dit ook soms doen.


Ds Nico Botha

Hoe moet ek volgens die Bybel omsien na my finansies?

Vraag:  Hoe moet ek volgens die Bybel omsien na my finansies?

Hoe en waar moet ek my bydraes en 10des gee?

Wat beteken 'n 10de?

Hoe moet ek my spaargeld sien in terme van Matt 6?

Antwoord:

Hoe moet ek volgens die Bybel omsien na my finansies?

Ek dink die wegspringplek is om al my geld te sien as ’n gawe uit die hand van die Here en  nie as iets waarop ek ’n aanspraak het omdat ek daarvoor gewerk het nie.  Alles behoort aan Hom en Hy gee soos Hy wil (Ps 24:1; Mat 5:45).  Dis ook hy wat vir my die gawes en talente en die geleentheid gegee het om te werk en so geld te verdien (1 Kor 4:7).

As dit my vertrekpunt is dan kom die volgende beginsels ter sprake:

• Ons moet goeie rentmeesters wees van dit wat Hy vir ons gee (Gen 1:28; Mat 25:14-30).
• Ons moet waak teen die mag wat geld oor ons kan kry (Pred 5:10; 1 Tim 6:10; Heb 13:5).
• Ons moet blymoedige gewers wees, wat maklik en baie van ons geld weggee (2 Kor 8:2-7; 9:7).  
• Ons mag ons geld geniet (Pred 5:17).

Hoe en waar moet ek my bydraes en 10des gee?

Die oorkoepelende beginsel wat ons hierin moet begelei is die feit dat ons as gelowiges geroep is om medewerkers te wees in die koms van God se koninkryk hier op aarde.  Die teksgedeelte in jou laaste vraag stel dit so mooi duidelik:  Soek allereers, (d.w.s. in die eerste plek en in alles en met alles wat jy is en het), die Koninkryk van God (Mat 6:33).

As sy koninkryk kom sal daar volmaakte reg en geregtigheid wees, geen sonde meer nie, armoede en siekte sal iets van die verlede wees, alle trane sal afgedroog word en bo alles sal ons by God wees en in ’n verhouding met Hom lewe waarbinne ons Hom volkome ken en liefhet (Open 21:1-5).  Dis hierdie “by God wees” en intieme persoonlike kennis van Hom, wat al die verkeerde dinge weer sal regmaak! 

As medewerker in sy koninkryk word al hierdie aspekte, wat duidelik nie in hierdie lewe ’n realiteit is nie, vir my belangrik. Daarom rig ek alles wat ek is en het, my tyd, my energie, EN my hulpbronne (ook my geld en besittings) daarop om iets van sy koninkryk hier en nou ’n werklikheid te maak.

Ek is nie alleen hierin nie.  Ons doen dit saam met mekaar as sy kerk.   Dis ook ’n belangrike deel van God se plan.  Die bedoeling met sy kerk is dat ons ’n vertoonvenster moet wees van sy koninkryk wat aan die kom is.  Daarom is dit goed dat ’n beduidende deel van my tyd en energie EN hulpbronne na my plaaslike gemeente moet gaan.  Die Heilige Gees gebruik ons tyd en energie en hulpbronne om plaaslik ’n alternatiewe gemeenskap tot stand te bring, wat vir die wêreld baie konkreet en prakties moet wys hoe dit gaan wees as Jesus weer kom en in volmaaktheid regeer (Hand. 2:42-47).    

Baie prakties beteken dit dat ek onder andere my geld (naas my tyd en energie en ander gawes) gee om seker te maak dat daar iemand is wat die Bybel voltyds bestudeer en daaruit preek hier in ons plaaslike omgewing sodat ons God nou al kan leer ken en groei in ons kennis en ons verhouding met Hom, in afwagting van die dag waarop ons Hom volkome gaan ken.  Dis hoe die Gees ons omskep in ’n nuwe gemeenskap:  deur die verkondiging van die Evangelie van Jesus.  Ek moet ook geld gee sodat die boodskap van Jesus verkondig kan word in die res van ons omgewing, (hier by ons, bv. in Diepsloot) maar ook wyer in die wêreld, soos in Londen waar ons betrokke is, en in Thailand en waar ook al Hy ons roep.  Die beginsel is dat die mense wat hiervoor afgesonder word, die reg het om onderhou te word deur die gemeenskap wat hulle hiervoor afsonder (Luk 10:7; 1 Tim 5:18; 1 Cor 9:3-18).   

Ek moet verder geld gee soos dit nodig is om ons onmiddellike kerkgemeenskap ’n gemeenskap te maak waar almal versorg word en na omgesien word en waar armoede uitgewis word (Hand. 20:35).  Dis natuurlike ’n komplekse saak, wat goed en mooi bestuur moet word (vgl. 2 Tes 3:10-12), maar die beginsel bly staan (Hand 2:42-47).  Die Here gee dan ook natuurlik vir ons gawes (ouderlinge en diakens) wat ons hierin moet begelei en ons moet help om dit met wysheid te doen (Hand. 11:29). 

Dit beteken nie dat ek al my geld wat ek weggee net vir my plaaslike gemeente moet gee nie.  Ons sou dit kon voorstel met konsentriese sirkels van verantwoordelikheid.  My eerste verantwoordelikheid is teenoor my eie huisgesin en familie volgens 1 Tim 5:8.  Daarna my gemeente (Gal 6:10).  Daarna alle mense soos die Here hulle oor my pad stuur (2 Thes 3:13)  

Binne hierdie raamwerk en met hierdie beginsels in gedagte, staan dit elkeen van ons vry om te gee soos ons oortuig word om te gee.   Laat ek persoonlik raak:  Op grond van hierdie beginsels uit die Skrif, gaan die grooste gedeelte van my maandelikse bydrae na my plaaslike gemeente.  So ook die liefdegawe wat ek bo en behalwe my maandelikse bydrae, weekliks tydens die eredienste gee vir spesifieke nood in ons gemeente of spesifieke sake waarby ons gemeente betrokke is.  Ek gee egter ook vir ander sake waarby ons gemeente dalk nie betrokke is nie, maar wat die Here tog op my hart kom druk het en in lyn is met die beginsels soos hierbo uiteengesit (soos bv. vir een van my vriende in die bediening by ’n gemeente wat finansieel swaarkry). 

Wat beteken 'n 10de?

Wat hierdie betref maak ek gebruik van ’n stuk van Dr. Jakob Pretorius van GK Linden met die titel, Jesus ek gee graag: 

Die getal tien in die Bybel dui op volledigheid, ook volledigheid wat die orde van sake aanbetref.  Daarom is daar ook Tien Gebooie.  Dis ʼn volledige stel etiese beginsels vir die uitleef van God se wil as verloste mens. Die mens kan egter nooit volledige geregtigheid voor God bereik nie.  Tiendes is ʼn getal van volheid.  Jesus is die volheid.  Soos met die offerandes is al die tiendes van die OT (en daarna), profeties en seremonieel en in werklikheid aan Jesus gegee as simbool van sy volheid.  Maar tiendes is self nie die volheid nie.  Tiendes is ʼn getal van volheid.  Jesus is die volheid.

Wanneer die volk Israel ontstaan, is hulle ʼn profetiese teokrasie (God is hulle koning wat oor hulle regeer en Jesus is later die Koning van die kerk).  Moses is die wetgewer.  Daar geld siviele, seremoniële en sedewette (Tien Gebooie) wat almal saam die Wet genoem word. Tiendes en offerandes vorm deel van die seremoniële wetgewing. Dit het elke keer te make met een of ander liturgiese handeling of die instandhouding van die kultus.  Dit vorm nie deel van siviele wetgewing (soos die heffing van belasting of skadevergoeding) nie.  Die gee van tiendes en offerandes word ook nie in die sedewette (waarvan die Tien Gebooie die vernaamste is) beskryf nie. In die Tien Gebooie (sedewet) word die beginsels hiervan egter duidelik verorden in die agste en die tiende gebod. Wanneer tiendes nie aan God gegee word nie, word van God gesteel, Hy word beroof (Mal 3:8), mense begeer geld eerder as God (tiende gebod) en pleeg afgodery met besittings (eerste gebod).

Tiendes en offerandes is ʼn saak vir Israel (dit begin al in hulle voorgeskiedenis met Abraham). Ook wanneer Jesus verwys na die voortgaande gee van tiendes, gaan dit oor die Joodse leiers wat allerlei gebruike rondom die gee van tiendes gereël het.  Nêrens lees ons dat hierdie formule of seremoniële saak aan die nasies ook opgedra word wanneer die Joodse gelowiges dissipels van hulle moet maak nie (Matt 28:18-20). Die Korintiërs is ʼn voorbeeld van hierdie nasies en hulle moet geld gee soos hulle dit in hulle harte voorgeneem het.

In Jesus is die hele wet vervul. Ons sien dit baie duidelik in die afskaffing van die seremoniële wette wat deur die Gees in die Briewe geskied (soos offerandes, besnydenis) omdat al hierdie seremoniële sake heengewys het na Sy koms en werk. Om na Jesus se hemelvaart steeds aan te dring op die seremonies wat heengewys het na Christus word beskryf as wettisisme en Judaïstiese dwaalleer wat verskeie gemeentes bedreig het (Kol .2:16; Gal 4:9- 11; Fil 3:3-4).  Sonder uitsondering is al die seremoniële bepalings vervul, so nie was Jesus se werk op aarde onvoltooid en onvolledig.  Dit geld ook vir die tiendes

Daar is steeds vandag pogings om die Ou Testamentiese seremonies terug te bring en mense se gewetens te bind . . . Ons moet daarteen waak om nie dieselfde met tiendes en offerandes te doen nie. Jesus het slegs twee uiterlike tekens vir sy kerk gegee, naamlik doop en nagmaal.

In die NT is daar wel vryheid om te leer uit die OT-iese seremonies en nuwe praktyke te vorm . . .   Dieselfde geld vir tiendes. Die analogieë van die Ou Testamentiese praktyke van tiendes en offergawes kan baie help om praktiese antwoorde oor finansiële offers te vind en dit is geldig om dit te doen. Die NT trek self die ooreenkomste, sonder om wette en formules daar te stel, byvoorbeeld  tussen die versorging van die Leviete en diegene wat die evangelie verkondig (1 Kor 9) asook hoe daar na die armes omgesien moet word (dink aan die Sarfat-bediening)

Dit wat in die tiendes in die OT gesimboliseer word, word nog sterker en duideliker in die NT beklemtoon (dit kan nie anders nie, want die bedeling is meer, nie minder nie). Byvoorbeeld, die Skrif is duidelik in die OT in Mal 4:10 oor die goeie gevolge wat die gee van tiendes sal hê. “Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie”. In 1 Kor 9:6-9 eggo die Gees dieselfde saak oor oorvloedige gee (tiende is getal van volheid, oorvloed) in die NT: “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes”. Dieselfde beginsels van feesvreugde by die gee van offers, geld ook vir die Nuwe Testament. “Om te gee maak ʼn mens gelukkiger as om te ontvang! (Hand 20:35) en die “Here het ʼn blymoedige gewer lief!” (2 Kor 9:7). In Jesus is die feesvreugde groter en meer! Ook wat ons geld aanbetref!

Ten slotte beklemtoon die NT wat in die OT ook gesê word veel sterker deur mense se
harte/diepste motiewe oor geld aan te spreek. Wat jy met jou geld maak verraai waar jou skat is en waar jou skat is, wys waar jou hart is. Waar jou hart is wys waar jy regtig is. Juis daarom sal formules nie deug nie. God se hart is dat menseharte, nee hele lewens, sal terugkeer na Hom toe!  (Aangehaal en aangepas uit die dokument: Jesus ek gee graag – dit is beskikbaar op aanvraag)

Hoe moet ek my spaargeld sien in terme van Matt 6?

In die lig van al die bogenoemde antwoord ek hierdie kortliks.   Om te spaar staan op sig self in teenstelling met God se koninkryk nie.  Dit is dus goed as ek spaar met die doel om:
• te verseker dat ek my familie goed kan versorg, dat ons kan aanhou om die finansiële gawe uit die Here se hand, verantwoordelik te geniet;
• te verseker dat ek kan aanhou om by te dra tot my plaaslike gemeente se werk in die koms van God se koninkryk;
• te verseker dat ek kan aanhou om op ’n standhoudende manier geld weg te gee soos  en waar die Here my oortuig om dit te doen;

Die praktyk om te spaar kan ’n wonderlike vrug van die Gees wees wat duidelik maak dat ek nie vasgevang is in materialisme en die mag van geld nie.  Sou ek egter spaar omdat ek dink dat ek daardeur my gemaklike lewe kan verseker, my sekuriteit in hierdie wêreld kan waarborg maak ek ’n groot fout (Luk 12:13-20).  Verder sal dit in stryd wees met die beginsel in Mat 6:33 as ek geld spaar terwyl ek nie my verantwoordelikheid teenoor my familie, my gemeente en my naaste nakom nie. 

Ek hoop hierdie help jou om op met verantwoordelikheid teenoor die Here jou finansies te gebruik tot sy eer en vir die koms van sy koninkryk. 


Ds Thomas Dreyer 

Wanneer gaan die verantwoordelike gebruik van jou salaris oor in suinigheid en gierigheid?

Vraag:  Wanneer gaan die verantwoordelike gebruik van jou salaris oor in suinigheid en gierigheid?

Antwoord:

Die kort antwoord:
Jou verantwoordelikheid gaan oor in suinigheid en gierigheid as jy:
• Vergeet dat alles wat jy het van God af kom
• Nie meer op Hom vertrou om te sorg nie maar eerder op jou salaris,  spaargeld, beleggings. 
• Nie met blymoedigheid, sonder dwang en mildelik kan geld weggee nie.
• Nie jou finansiële verantwoordeliheid teenoor jou gesin, familie en gemeente nakom nie. 
• As jou geld eerder jou koninkryk dien as wat dit God se koninkryk dien. 

Die langer antwoord:

Kom ons begin by die begin en trek die beginsels deur.

• God het alles gemaak. Gen. 1.
• God het aan die mens die opdrag gegee om die aarde te bewerk en daarvan te lewe, te bewaar en te bewaak Gen. 1
• Die sondeval het veroorsaak dat werk baie moeiliker is. Gen. 3
• Alles behoort aan die Here.  Ps. 24 leer ons dit. “’n Psalm van Dawid. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here...”

o Ja, wie ons is, wat ons is en wat ons het, behoort aan die Here.
• Jesus Christus het met Sy koms as Verlosser ook ons “werk” kom verander.
• Wat het Jesus Christus kom doen?

o Jesus kom gee aan ons wat ons glad nie verdien nie, verlossing van ons sondes en die ewige lewe. Hy betaal met Sy lewe. Hy sterf die vloek kruisdood. Hy ervaar hel – om sonder God te wees.

o Hy oorwin die sonde, die dood en die Satan. Hy staan op uit die dood en maak ons saam met Hom oorwinnaars!

o JESUS GEE DUS ALLES AAN ONS EN MAAK ONS NUUT.

o Daarom wil ons ook ons geskenke deel en aan God die eer gee.
• In Kol. 3:23 word ons aangespoor om dat ons ook al doen, dit van harte soos vir die Here te doen en nie vir mense nie.
• Ons moet die talente wat God aan elkeen van ons gee, ten volle benut. Matt. 25:14-30. Dit beteken dat ons daarop uit moet wees om in die vervulling van ons roeping nie net te “werk” nie, maar anders te werk. Ons wil ons werk met kwantiteit en kwaliteit lewer. Pred. 9:10 leer ons: “doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen”.
• God het die mens egter as rentmeester oor die besittings aangestel. Ps. 8:7 wys ons dat die Here aan ons die taak gee om te heers oor die werke van God se hande. Verantwoordelike beheer ook oor ons finansies is ook baie belangrik.
• Wanneer ek my begroting opstel, staan daar heel bo my dankoffer aan die Here. Dan volg die versorging van my gesin, en dan volg die omgee vir ander. Dit help nie ek help ander mense, maar my gesin kom kort nie. Wat ook nie reg is nie, as ek meer as genoeg het vir my gesin, maar dan suinig is om wyer te help. Dit is waar suinigheid inkom.

Kyk wat sê die Here in Sy Woord oor suinigheid.
* Deut 15:7 “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee, ’n arme is, ’n mede-Israeliet, moet jy nie hard en suinig wees teenoor so ’n broer van jou wat arm is nie.”

• Hier is twee dinge wat aangespreek word: 1) dat jy nie jou hart moet verhard nie, dus selfsugtig en hartkoppig moet wees nie. 2) letterlik beteken “suinig” dat “jy hou hand toemaak” vir iemand anders. Ja, as ek wel iets in my hand het en dus iets het om vir iemand te gee, maar my hand toehou, is ek suignig.

• Vir myself is dit dikwels iets waaroor ek myself moet aanspreek, spesifiek wanneer ek by die winkels aangaan en iets spesifiek soek. As ek vir die derde keer ʼn karwag moet “tip”, dan sug ek daaroor. Op daardie stadium skop my gewete in en ek dank die Here vir wat ek ontvang, en as ek nog ʼn geldjie het, gee ek dit wel.
* Spr 11:24 “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word.”

• Hierdie is kosbare insig. Wanneer die Here ons lei om van wat Hy ons gee, ook met ander te deel, gee Hy nog verdere seën. Hoor mooi, die doel is nie om meer te kry en daarom gee ons meer nie.

• Die Here beskik dinge so dat Hy jou verder seën sodat jy vir ander ook Sy seën kan oordra. Die waarskuwing is, as jy suinig is, dus wel gawes het om met ander te deel, kan die Here besluit om Sy gawes weer van jou af weg te neem. Ook nou moet jy nie weens vrees vir verlies omdat jy suinig is, skielik nou vir iemand iets gee nie.
• Verander jou gesindheid teenoor God, jouself en jou medemens. Vra die Here vir insig oor hoe jy met jou gawes moet omgaan sodat jy Hom met jou dankbaarheid eer.

Kyk wat sê die Here in Sy Woord oor “gierigheid”

Efes 5:5 “Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.”

• Gierigheid beteken dat jy so oorheers word deur nog geld en nog wins te wil maak, dat jy totaal en al daardeur beheer word. Die geld of besitting word dan jou afgod. Gierigheid word op gelyke vlak as die sonde van ontug en onsedelikheid geplaas. Gierigheid is afgodery. Kan ons meer sê?

Selfverloëning in die aanwending van jou inkomste is ook nodig.

In 1 Joh 3:16,17,18 lees ons:
“16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.
17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly,
maar geen gevoel vir hom het nie
—hoe kan die liefde van God in hom wees?
18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie,
maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”

• Net soos wat Jesus sy lewe afgelê het, so word daar ook ʼn bereidheid in ons opgewek om iets van ons self in woord en daad af te lê.

• Dit beteken dat, indien ons self meer as wat ons nodig het, met iemand wat gebrek het, te deel. Dis ʼn daad teen suinigheid.

Kom ons leer mekaar om gewillig en met die regte gesindheid te ontvang en met dankbaarheid te aan te gee.

2 Korintiërs 9:7 (AFR1983) “7Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”


Ds. J. van Schaik

Hoe moet mens dink oor oortuigings van mense wat sê dat alle siekte van die duiwel af kom?

Vraag:  Hoe moet mens dink oor oortuigings van mense wat sê dat alle siekte van die duiwel af kom? M.a.w. dat siekte nie van die Here af kom nie.


Antwoord

Hierdie is 'n baie belangrike vraag.
Ek self is die afgelope maand baie met hierdie einste vraag in die gemeente waar ek bedien gekonfronteer toe ons koster met kanker gediagnoseer is en n hele paar mense presies dieselfde ding vir haar gesê het.

Die belangrikste ding om te onthou is dat God in beheer is van wie siek word en wie genees word!  Daarmee kan nie bedoel word dat God noodwendig alle siekte stuur of toelaat nie.  Die werklikheid is dat die wêreld grondig deur die sondeval aangetas is en daarom in sy wese gebroke is (lees Gen.2:17; Rom.5:12 en Esegiel 18:4 Rom.8:18-21).  Siekte en dood is as gevolg van God se oordeel oor die sondeval.  Maar die Bybel leer ook dat God siektes onder sy beskikking het.  In Eksodus 4:11 toe Moses geweier het om met die Farao te gaan praat, het God vir hom gesê: “Wie het aan die mens n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here nie?”  God sê in Deuteronomium 32:39 (OAV): “Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie. Ek maak dood en maak lewend! Ek het verbrysel en Ek genees. En daar is niemand wat uit My hand red nie”

Hoewel Hy nie altyd die oorsaak van siektes is nie, gaan dit dus nie buite sy beheer om nie.  Uiteindelik het Hy Jesus Chritus gestuur om ons volkome te verlos ook van die gevolge (straf) van die sondeval, nl. die siekte en dood.

Daarby leer die Bybel dat God siektes kan gebruik vir sy goeie doel, soos  in Rom.8:28 gestel word.  Maar dat al hierdie besluite van Hom tot die goeie vir sy kinders dien, selfs al mag dit selfs baie pynlik wees!(Romeine 8:28)
So op die ou end sit die soewereine hand van God agter alle siekte!   Vir Sy kinders sal dit altyd vir hulle ten goede meëwerk!

Maar wat dan nou van die Satan? Satan is anders betrokke by lyding en dood as God.  God beoog die heil en redding en behoud van die mens in hierdie gebroke bedeling, terwyl Satan die vernietiging van die mens beoog.  Hy wil mens losruk uit die verbondsverhouding met God. 

Was dit nie hy wat ons geestelik en fisies aanval nie?

Was dit dan nie Satan wat byvoorbeeld vir Job gemartel het nie?

Ja dit was.

Maar onthou Satan het geen krag buiten dit wat God aan hom toeken nie.  God trek die grense vir Satan en bly in beheer van die sieke.  Hy is daarom nie instaat om enige iets te doen as God hom dit nie sou toelaat nie.
Onthou Hy is 'n vyand wat aan 'n ketting vas is.

Satan is dus nooit soewerein in enige van ons siektes nie!!  Hy is nie!!!

God is!!!

Toe Satan vir ‘n tweede keer na God toe gegaan het in die boek Job, het God hom toestemming gegee om Job se liggaam met siekte aan te val.  En dan sê Job 2:7 dat die Satan weggegaan het van die aangesig van die Here af en hy het Job met bose swere gaan tref, van sy voetsool af tot by sy skedel.
En toe Job se vrou uit wanhoop vir hom gesê het: “Vervloek God en sterf” (Job 2:9), het Job gereageer deur te sê: “As ons die goeie van God aanvaar moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”(Job 2:10).
En Hy was nie verkeerd deur dit te sê nie.
Want sê die skrywer dan verder in 2:10: “By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie”.
M.a.w. dit is geen sonde om die soewereine hand van God selfs agter ‘n siekte wat deur die Satan veroorsaak is, raak te sien nie.
Die Skrywer sluit dan juis ook die boek van Job af deur in Hoofstuk 42:11 terug te verwys na Job se swaarkry en dan sê hy: “Ook het al sy broers en al sy susters na Hom toe gekom en met hom saam brood geëet in sy huis en hulle het met hom medelye gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die Here oor hom gebring het.”

Ja, die Satan is ‘n werklikheid en hy is vol haat teenoor ons, maar Hy is nie soewerein in ons siektes nie!!!
God is!! Die siekte sal altyd dan op die ou end goed wees vir ons as Sy kinders!

Satan kan daarom baie slinks wees, maar as dit kom by sekere dinge soos siekte en lyding is hy dwaas, want hy kom nie agter dat al sy pogings om die kinders van God te beroof, elke keer maar net deur God se voorsienigheid verander word in ‘n geleentheid waarin God se kinders gelouter en in die geloof versterk word nie.

God se doel met ons as sy kinders in hierdie tydperk terwyl ons op aarde leef, is nie primêr om ons van alle siekte en pyn vry te maak nie, maar om ons al hoe meer te suiwer van ons oorblywende sondes.
En om deur ons swaarkry en lyding ons daartoe te bring dat ons aan Hom sal vasklou as ons enigste hoop!

Daarom sê Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles (daarom ook al die siekte) ten goede meëwerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is”)!

 

Ds Gideon van der Merwe
Gereformeerde Kerk Durban-Noord