Taal

Teken In

Verjaarsdae

Sondag, 10 Desember

Leana Meyer

Jeanne Sterianos

Hilmer Backer

Dietmar Engler (74)

Maandag, 11 Desember

Ruan Coetzee

Adele Visser

Heinie Groenewald

Chris Joubert

Ilzé Kotzé

Jan De Kloe

Dinsdag, 12 Desember

Leonie Botha

Jannie Van Der Walt

Sonja Balt

Woensdag, 13 Desember

Thato Semenya

Liz Steyn

Wesley Faver

Donderdag, 14 Desember

Cass Hattingh

Lara Van Rooyen

Mariska Van Niekerk

Vrydag, 15 Desember

Luan Kotze

Erich Holz

Johan Knoester

Warrick Beaumont

Chris Venter

Speek Venter

San De Beer (85)

Saterdag, 16 Desember

Chris Du Plooy

Susan Brink

Sondag, 17 Desember

Hettie Vorster-Viljoen

Nelleke Voogt (73)

Dinsdag, 19 Desember

Elani Van Rooyen

André Marais

Philip Van Wyk

Ila Schutte 

Elfrieda Botha (77)

Gert Hatting (82)

Woensdag, 20 Desember

Abraham Theunissen

Krister Janse Van Rensburg

Antoinette Van Wyk

Donderdag, 21 Desember

Gustav Roux

Anke Kotze

Hendri Van Der Loo

Vrydag, 22 Desember

Esti Beaumont

Hennie Serfontein

Douw Venter (85)

Saterdag, 23 Desember

Magna Malan

Jenny Schramm

Pas getroud, man vra hulp - erken skuld, vrou trek terug.

Vraag:  Ons is maar 2 maande amper 3 maande getroud. My vroutjie weier om verder met my te praat oor probleme en issues in ons verhouding. Ek erken voluit dat ek skuld dra in alles en ek het dit so ook aan haar erken. Ek maak telke male die foute oor en oor deur goed te doen wat haar brusend maak. Ek het innig berou oor alles wat ek gedoen het en het dit ook al meer as een keer vir haar gesê. Maar sy't koud geword teenoor my, sy het nie meer lus om na my verskonings te luister nie en het my al 'n paar keer selfs beskuldig dat ek haar nie regtig lief het nie en haar nie respekteer nie. Dis glad nie waar nie, ek het haar ongelooflik baie lief en ek sal regtig enige iets doen om sake weer reg te maak tussen ons. Sy is 'n diamant vrou en ek sal my lewe vir haar gee... As sy tog maar net my weer as haar vriend sal sien en my net weer naby haar sal toelaat. Ek erken ek het haar versmoor met liefde en ek het al baie probeer om dit nie te doen nie maar as ek my kon kry doen ek dit net weer. ASSEBLIEF HELP MY!!!!!!????? Ek's 'n monster in my vrou se oë.

Antwoord:

Die regop gedrukte sinne is van die person wat die vraag gerig het; die skuins gedrukte sinne is die persoon wat die antwoord verskaf.

Goeie dag Anoniem. Met die inligting wat jy hier gee, gaan ek opmerkings maak en advies gee.
• Ons is maar 2 maande amper 3 maande getroud.
o Wat ʼn invloed het op julle huwelik is die volgende dinge:
 Hoe oud julle is en wat het al met julle gebeur, alleen en saam?
 Wat het met julle as kinders gebeur en het julle die trauma’s van die verlede verwerk?
 Het julle ander verhoudings gehad? Is daardie dinge wat in daardie vorige verhouding skeef geloop het al verwerk? Onthou, elkeen van julle moet die seerkry van die verlede verwerk en genesing kry.
 Watter rol speel julle geloof in God Drie-Enig?
 Is julle betrokke by ʼn geloofsfamilie soos by ʼn gemeente?
• My vroutjie weier om verder met my te praat oor probleme en issues in ons verhouding.
o Om so drasties op te tree soos jou vrou, kom nie sommer oor iets kleins nie. Sy het waarskynlik ook dinge waarmee sy worstel.
o Wanneer ʼn mens iets verkeerd doen en mekaar seermaak, dan is daar baie wat gedoen kan word. Máár, wanneer jy herhaalde kere dieselfde ding doen, dan verloor jou geliefde vertroue in jou. Wanneer dit verder en verder gaan, dan gaan daar iets dood binnekant.  
• Ek erken voluit dat ek skuld dra in alles en ek het dit so ook aan haar erken.
• Ek maak telke male die foute oor en oor deur goed te doen wat haar brusend maak. Ek het innig berou oor alles wat ek gedoen het en dit ook al meer as een keer vir haar gesê.
o Wat is hierdie foute? Dit kan groot dinge en klein dingetjies wees.
o Jy en julle kan hulp kry om die dinge een vir een deur te werk en weer te groei in julle liefde vir mekaar.
• Maar sy't koud geword teenoor my, sy het nie meer lus om na my verskonings te luister nie en het my al 'n paar keer selfs beskuldig dat ek haar nie regtig lief het nie en haar nie respekteer nie.
• Dis glad nie waar nie,
o ek het haar ongelooflik baie lief en ek sal regtig enige iets doen om sake weer reg te maak tussen ons.
o Sy is 'n diamant vrou en ek sal my lewe vir haar gee...
o As sy tog maar net my weer as haar vriend sal sien en my net weer naby haar sal toelaat.
 Jy bely jou liefde vir haar, en deur die werking van die Heilige Gees is dit werklik moontlik om genade te kry. 
o Ek erken ek het haar versmoor met liefde en ek het al baie probeer om dit nie te doen nie maar as ek my kon kry doen ek dit net weer.
 Om iemand met liefde toe te gooi is nie verkeerd nie. Die kuns is hoe om dit te doen. Dit gaan oor die wat, die hoe en wanneer, asook hoekom?
 Mens kan baie leer by mekaar en ander mense. Die belangrikste is om by God hulp te soek en by mense wat Hy roep om jou en julle te help.

ASSEBLIEF HELP MY!!!!!!????? Ek's 'n monster in my vrou se oë.

Kom ek noem ʼn paar dinge vir jou om oor te dink en te bid:

* Hou aan om jou hulp by God te kry. Vra die Heilige Gees om jou te lei om met God te praat. Jy kan in jou gedagtes met God praat, hardop praat en met toe oë met Hom praat. God is baie naby. Ps. 145:18 sê dat God naby almal is wat Hom aanroep. Jy doen dit, jy roep God aan. Hou aan daarmee, Hy is naby jou!
* Elke mens staan in ʼn netwerk van verhoudinge: Jou verhouding met God, met jouself, geliefdes en ander mense, asook met dinge (soos diere...) Jou verhouding met God is die belangrikste een waarmee jy werk. Wanneer jy hierin groei, gaan jy beter oor jou self voel en jy gaan beter met ander mense werk.
* God se verhouding met ons groei deur die Heilige Gees wat in ons werk en deur die inligting wat ons van God kry deur die Bybel. God gebruik geliefdes en vreemdeling om ons te help, te lei en saam met ons die pad te loop.
* God skenk Sy Seun Jesus Christus om jou en my en julle sondes te kom wegvat. Ja, Jesus het in jou en julle plek aan daardie kruis gesterf! Joh. 3:16 ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, ... en die wat in Hom glo, ... ontvang die ewige lewe...’ Dit doen Jesus Christus vir jou en jou vrou!
* Die pad van selfondersoek kan die volgende wees wat jy en julle kan loop: Bely, berou, bestry, bevry. Bely jou sonde deur presies te sê wat jy verkeerd doen. Toon berou daaroor deur baie jammer daaroor te wees en huil daaroor. Vra om vergifnis, by God en by die een teen wie dis sonde is. Bestry die sonde deur hulp te kry om die nie weer te doen nie. So word jy bevry deur God wat self in jou werk en gelowige mense gebruik om te help.
* Dink bietjie aan die huwelik se Groot 5 (maar my benaming): 1) Dis jou verhouding met God. 2) Familie probleme. 3) Verslawingsprobleme. 4) Geld. 5) Seksuele dinge. Dink en bid een vir een hieroor en groei hiermee. 
* Jy en julle het dalk ook mediese hulp nodig. Spanning en worry’s en werk kan mens baie moeg maak.
* Wat is liefde? Daar is selfverloënde liefde, vriendskapsliefde en die romantiese en seksuele liefde. Dit begin by die selfverloënde liefde, soos wat Jesus vir ons gegee het. Hy het Homself geoffer. Wees bereid om die eerste hulp te vra, te kry en om vergifnis te soek. Neem die vergifnis. Wees weer vriende soos julle was toe julle mekaar leer ken het. Wees werklik intieme vriende en praat oor alles. Leer elke dag nog meer ken van mekaar, die goeie en die slegte. Dan, die seksuele. Seks is nie liefde nie. Ware liefde lei tot ʼn intimiteit en ʼn heerlike eenheid na liggaam, siel en gees. Leer mekaar se liggame en behoeftes ken. Respekteer mekaar en help mekaar. Moenie forseer nie.
* Raak rustig voor die Here en begin by jouself. Moet liefs nie jou vrou konfronteer of bombadeer nie. Moet liefs nie reaktief wees op wat sy sê nie. Sê vir haar dankie vir wie sy is. Vra gereeld wat jy vir haar kan doen. Bid en bid my vriend. Wanneer jy vrede begin kry, gaan sy weer begin vertrou. Vergewe jouself. Maak opreg tyd vir julle saam.

Vriend, vertrou op die Here en maak staat op Hom. In 2 Kor. 12:9 sê die Here vir jou en julle en ons: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom tot volle werking wanneer jy swak is.” Jy is nou sterk want jy het jou omgee en persoonlike swakheid erken. Nou gaan jy sterker word in die Here, want jy maak nou baie meer op Hom staat.

Anoniem, jy sê jou vrou dink jy is ʼn monster. Onthou dat dit eintlik die moeilike goeters is wat maak dat dinge donker en monsteragtig raak en lyk. Deur die Verlossing in Jesus verander alles. Dan word die duister en monsteragtige dinge uitgeklaar en dit word weggeneem, vergewe. Ps. 139:13 en verder sê dat die Here ons gevorm het en dat Hy ons op ʼn wonderbaarlike wyse geskape het. Hou vas aan die Here, hou uit deur die krag van die genade en hou aan...

Kan ek jou ook aanspoor om die volgende stap te neem? Vra hulp by jou gemeente, jou predikant of pastoor. Jy is baie welkom om my te kontak hiervoor.

Groete in Jesus Christus.
Ds. Joop van Schaik

Hoekom vergeet die Here my?

Vraag:  Dit voel of God my huishouding en my besigheid vergeet.  Ek probeer nogsteeds om my besigheid meer gevorderd te kry en meer inkomste in te kry. Ek bid al vir 3 jaar dat God die besigheid moet seën en meer suksesvol maak? Hoekom ignoreer Hy my?

My man presteer baie goed met sy werk, en ek is nogsteeds n huisvrou. Dus my man is nooit tuis om te help.

Ek werk baie hard om die huishouding glad te laat verloop en alles loop net verkeerd. Hoekom vergeet die Here my?

 

Antwoord:

Jy skryf nie hoe dit tans met julle huwelik gaan nie, maar uit jou vraag “hoor” ek dat jy steeds voel of God jou “huishouding en besigheid vergeet”.  Daaruit lei ek af dat dinge, ook ten opsigte van julle verhouding in die huwelik (en jou man se ondersteuning in huishouding), nie glad loop nie.
Ek wil graag vir jou die Goeie Nuus bring:  God vergeet nie sy kinders wat dringend en met erns na Hom soek nie. 

Wil jy en jou man nie asseblief saam die onderstaande Skrifgedeelte lees en eerlik voor die Here kom staan nie.  Dit kom uit 1 Petrus 3:1-9:

 

 Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie.
3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters.
 
7Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Hoe elkeen hom moet gedra
8Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. 9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

Ek wil nie fokus op al die detail van die Bybelgedeelte nie.  Net dit: Die Here vra vir beide dat julle in liefde en opoffering, omgee en eer teenoor mekaar moet saamleef.  En dan sê Hy die merkwaardige ding in vers 7: Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Hou in gedagte dat gebed sekerlik (saam met Bybel-lees) die belangrikste kommunikasie-kanaal tussen ons en die Here is – nie net om ons behoeftes vir Hom bekend te maak en te vra nie, maar ook om vir Hom te sê dat ons Hom liefhet, om Hom te dank en te wys dat ons afhanklik van Hom wil leef.  ‘n Innige gebedslewe wys ‘n lewende verhouding met die Here!

Maar as Christene nie bereid is om volgens bogenoemde norme (verse 1-7a, 8-9) te leef nie, word ons gebede verhinder.  Hierdie laaste woorde kan op drie maniere verstaan word:

1. As ‘n Christen iemand anders (vrou, man, kollega, naaste) onregverdig, liefdeloos of onchristelik behandel, kan jou eie gewete jou begin verhinder om te bid.  Ons liefdelose optrede, hardheid en gebrek aan vergewensgesindheid, maak dat ons aanvoel: Ek het nie vrymoedigheid om nou te bid nie.  Ek moet eers gaan regmaak met my naaste.  Maar jy wil nie, is gewoon nie lus nie of kwaad, en sien nie kans om jou verkeerde optrede te erken, te bely en te laat staan nie.  En in plaas van breek met jou skuld, breek ‘n mens eerder met God... onbewustelik!  Jy bid al hoe minder, of later glad nie meer nie... en dryf weg van God af.

2. Die tweede moontlike verstaan van die woorde is:  dat sulke optrede hulle gesamentlike gebede verhinder; dat die mans en vroue in hulle huise nie langer meer saam kan of wil bid nie, omdat liefdeloosheid, onreg, vernedering, gebrek aan respek en sensitiwiteit die verhouding tussen hulle vertroebel het.

In Matteus 5:23-24 sê Jesus selfs dat, nie net as ons iets teen ons medemens (man/vrou ens.) het, moet ons vergewe voor ons bid nie, maar selfs indien ons medemens iets teen ons het (as ek aanvoel daar is spanning tussen ons, hy/sy is afsydig teenoor my, lyk hartseer of kwaad), dan moet ék gaan praat, gaan regmaak..., voor ek bid!  Om saam tot God te bid, is nie ‘n blote formaliteit, wat Christene kan afhandel met kwaaivriendskap, bitterheid en ontevredenheid steeds in die hart, wat oomblikke na die gebed weer kan uitbars nie.  Hoe swaar ookal, voor ons kan bid, moet ons ons lewens en verhoudings met mekaar regmaak.  Wie nie bereid is om saam, eensgesind, tot God te bid en saam te stem oor wat hulle vra nie, moenie dink dat elkeen op hul eie sy Naam mag aanroep asof niks verkeerd is en die Here maar tevrede is daarmee nie.

3. Die derde verstaansmoontlikheid van vers 7b is: as ons nie bereid is om so (soos in verse 1-7a, 8-9) met mede-gelowiges (mede-erfgename van die nuwe/ewige lewe by God) te leef nie, ons gebede verhinder sal word, omdat God dit nie sal verhoor nie.  Nie omdat God doof is, of ons vergeet het nie, maar omdat die geroep van die wat ons seermaak en te na kom so weergalm in die hemele...  (lees asb weer vers 8 en 9 asook Jakobus 5:4).
Die sugte en trane van jou vrou (of man), wat jy so sonder liefde en respek behandel, onderskep jou gebede op pad na God toe.

Dieselfde Jakobus (in 4:3) leer ons:  As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig kry.  Dit is, as ons, selfs deur ons gebede, ons eie wil en behoeftes op God wil afdwing en nie bereid is om eerder sy wil te doen nie.  

As ek alles hierbo gesê moet saamvat, waarsku die Here by monde van Petrus in vers 7b dat gelowiges hulle verhouding met Hom nooit kan losmaak van hulle verhouding met hulle medemens nie.

Daarom is dit so belangrik dat jy en jou man saam (sonder om mekaar te beskuldig), hierdie antwoord lees... en hand in eie boesem sal steek, “sodat julle die seën van die Here kan verkry” (sê vers 9b).

En die seën van die Here beteken nie (noodwendig) aardse voorspoed, ‘n suksesvolle besigheid of die afwesigheid van alle swaar en frustrasie nie, maar eerder die teenwoordigheid van die Here in alle swaar- en frustrasie-tye.  Dit bring ‘n diepe sekerheid en vrede dat die Here by jou is, daar is en vir jou sal deur-dra en koester en krag gee vir alles wat jy moet doen.

Die punt is, die Here het ons as sy kinders, vir jou, nie vergeet nie.  Maar ons mag ook nie leef asof Hy (en sy Woord) nie vir ons belangrik is nie  (Dan beteken dit dat ons Hom dalk vergeet het).

In Psalm 50:15 (met die opskrif: Hy wat reg lewe, vir Hom sal Ek red) beloof die Here: Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.

Mag die Here werklik vir jou (en jou man en huishouding) so lei dat die waarheid van sy Woord vir julle waar word. 

Ds. Charl van Rooy

Bly saam en man vra haar om te gaan

Vraag:  Hallo Dominee
Ek wonder hoeveel tyd het ons, ek is ’n ou dopper (haha) maar nou ja, as ek nog was, dan was ek vandag onder sensuur.  Ek is nou na 3 jaar se alleenloop weer in ’n  verhouding, die man is nog nie geskei nie (sy vrou het egbreek gepleeg) na my egskeiding het ek besluit ek sal nie met ’n  man in verhouding gaan as hy nie die pad saam met my en die Here wil loop nie.  Ek het geglo dat hy die pad saam die Here loop (sê my asb. as ek verkeerd is) my siening en my mening as ’n  mens ’n  kind van die Here is dan sal jy probeer om nie ander mense om jou en na aan jou te na wil kom nie, hy het voordat ek hom ontmoet het glad nie eers kerk toe gegaan nie, eers nadat hy sy vrou gevang het, het hy die Here aangeroep, en ek is bly vir hom daaroor.  Ons is nie perfek nie ons almal val en moet weer opstaan.  Gister uit die bloute bel hy my werk toe en dat ek moet uit sy lewe f@'@f, en ek moet uit sy huis uit, en dit is teen sy Christelike beginsels om my in sy huis te hê.  My vraag aan hom was waarheen moet ek nou gaan? Ek het alles opgegee - hy het vir my die werk hier waar ek nou bly gereël, moet ek net alles oppak en padgee?

Antwoord: 

Anoniem, ek antwoord jou vraag soos wat jy jou hart oopmaak.
Vraag :
Hallo Dominee
Ek wonder hoeveel tyd het ons, ek is n ou dopper (haha) maar nou ja, as ek nog was ,dan was ek vandag onder sensuur.
 Ek is bly jy het nog die vrymoedigheid om by jou “ou dopper” vriende in Christus te kom raad vra. Ons is mos almal in Jesus een en Sy Koninkryk strek oor die hele aard (en skepping). Jy is baie welkom en dis ons voorreg om mekaar op die manier te leer ken.

Ek is nou na 3 jaar se alleenloop weer in ‘n verhouding, die man is nog nie skei nie (sy vrou het egbreek gepleeg).
Jy het in jou vorige huwelik verseker seergekry en dit het jou baie versigtig gemaak. Mens verstaan dit baie goed.

Na my egskeiding het ek besluit ek sal nie met ‘n man in verhouding gaan as hy nie die pad saam met my en die Here wil loop nie.
Ek is bly dat jy glo dat jy en ‘n nuwe vriend wat later jou nuwe huweliksmaat kan word, altwee ‘n pad saam met die Here moet loop. Dit laat my sommer dadelik dink aan Ps. 127:1 “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.”  Jy erken dus dat die Here die nuwe huis, die nuwe verhouding moet bou.

Mag ek hier by jou en Psalm 127 aansluit. Wanneer ʼn mens ʼn nuwe verhouding begin, moet ons eers besin of dit reg is om so ʼn verhouding te begin. Die nuwe vriend van jou was toe nog getroud. Jy sê dat sy vrou eerste egbreuk gepleeg het en daarom het julle die nuwe verhouding begin. Maar is dit nie presies wat julle ook self begin doen het nie, om egbreuk te pleeg nie? Hy was nog wettig getroud en nou knoop hy die verhouding met jou aan. Jy begin ʼn verhouding met ʼn getroude man. 

Ek het geglo dat hy die pad saam die Here loop (sê my asb as ek verkeerd is).
Jy sê dat jy geglo het dat hy die pad saam met die Here geloop het, maar julle tweetjies het alreeds saam nie die Here se pad geloop nie. Julle het julle eie paadjie begin loop en nie die Here sin nie. Vra jouself af, vriendin in Jesus, het jy nie dalk ‘n “deal” met die Here gemaak nie? Iets soos, verstaan tog net Here, dat ek menslik wil seker maak. Ek wil gehoorsaam wees, maar laat ek tog net hierdie een sonde van owerspel/egbreuk nog so rukkie pleeg. So, jy verwys na iemand anders se sonde teen die Here, maar jy doen dit self, nie waar nie?

My siening en my mening is, dat as ‘n mens ‘n kind van die Here is dan sal jy probeer om nie ander mense om jou en na aan jou te na wil kom nie.
Jy is heeltemal reg. Maar jy doen dit dan ook self, nie waar nie? Jy doen jouself en iemand ander skade aan en kom jouself en ander te na, deur in die verhouding te wees. Die Here help ons dus om hand in eie boesem te steek en self in die spieël te kyk.

Hy het voordat ek hom ontmoet het glad nie eers kerk toe gegaan nie. Eers nadat hy sy vrou gevang het, het hy die Here aangeroep, en ek is bly vir hom daaroor. Ons is nie perfek nie. Ons almal val en moet weer opstaan.
Wel, jy weet nie wat sy verhouding was met die Here nie, ook nie nou nie. En ja, mens is bly dat iemand die Here begin ken en Hom aanroep. Die Here kom juis binne mens se lewe, in moeilike en mooi tye, en Hy wys Sy liefde vir jou as sy kind. Ek is nie seker wie jy bedoel nou sy vrou is nie, sy vorige vrou of jy? Dit blyk of hy weer iemand anders in sy lewe het. Dalk sy vorige vrou of weer iemand nuuts na jou. 

Gister uit die bloute bel hy my werk toe en dat ek moet uit sy lewe f@'@f, en en moet uit sy huis uit. Hy sê dit is teen sy christelike beginsels om my in sy huis te hê.
Is die uitjaag met daar die F woord syne of joune? Wie weet wat sy redes is? As dit sy woorde is, dan bots sy taal en optrede weer met sy Christelike beginsels. Sy seksuele behoeftes word dalk nou anders bevredig. Dis dalk hoekom hy jou oorreed het om deel te word van sy lewe, om sy seksuele behoeftes te bevredig. Aan die ander kant, as hy besef dat dit voor die Here is wat hy moet regmaak, dan is dit inderdaad die regte ding om te doen. Die Here moet mos die huis bou.

My vraag aan hom was waarheen moet ek nou gaan? Ek het alles opgegee, hy het vir my die werk hier waar ek nou bly gereël. Moet ek net alles oppak en padgee?
Ai, dis is baie hartseer ja. Jy het gedink jy en julle doen die regte ding en julle sal dit voor die Here ook regmaak. En nou kom hierdie groot krisis. Moet jy alles oppak en padgee? Ja, dis die beste. Moeilik, maar die beste ding om eerder aan die Here gehoorsaam te wees.

Anoniem in Jesus. Vir my is jy anoniem, maar nie vir die Here nie. My raad aan jou is om vas te hou aan die Here en hulp te kry by Christen familie en vriende. Gee alles vir die Here hieroor. Maak jou hart oop by God die Vader en sit op sy skoot. Sê vir die Here jy erken dat jy ook verkeerde dinge voor Hom gedoen het. Erken dit ook aan die man wat nie jou man is nie. Huil voor die Here hieroor en smeek dat Hy jou vergewe. Die wonderlikste is dat Jesus vir jou gesterf en uit die dood uit opgestaan het, vir die man ook.

Blaai asb. vanaand na Joh. 4. Daar gee die Here vir ons die wonderlike getuienis van ‘n Samaritaanse vrou. Jesus soek water by ‘n fontein en die dame gee vir Hom water. Jesus weet presies wat in haar lewe aangaan, want Hy is God. Hy bemoei Hom juis met die dame. Jesus sê vir haar, gaan roep jou man. Sy antwoord, ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar, jy is reg, jy het reeds vyf gehad en die een wat jy nou het, is nie joune nie. Jesus wou dat hierdie samaritaanse vrou en ook baie ander samaritane tot geloof in Hom kom. Sy en baie ander in die dorp het toe inderdaad tot geloof gekom, vergifnis ontvang en tot eer van God geleef. Dis fantasties!

Met die boodskap het ons almal mos die blydskap dat daar vir ons genade en vergifnis is. Vir jou en die man, vir wie ookal in jou lewe was en is. Daar is genade vir elkeen van ons, want ons almal het sondes wat God hartseer maak. Vir jou en my het Jesus gesterf. Kom ons wees hiervoor innig dankbaar en vra dat die Heilige Gees jou help om op te staan uit die verkeerde omstandighede. Neem ‘n besluit,  dat jy in Jesus se voetspore wil volg. Gee oor aan die Here, glo dat jy gereinig is. Besluit nou dat die volgende verhouding wat jy met iemand aanknoop, dat dit rein voor God sal wees en dat jy jou menslike vrees en onsekerheid vir God gee. Die Here weet hoe Hy jou verhoudinge kan herstel en ‘n nuwe verhouding vir jou kan skenk. Mag die Here jou seën.

Groete, Joop van Schaik

Doop

Vraag:  Is dit reg as die NG Kerk tydens 'n voorstel en aannemings seremonie 'n bad in die kerk inbring en 'n groot doop doen?


Kan ek nog met vrymoedigheid 'n lidmaat van die GK wees (my vereenselwig met die GK) as ek myself wil laat grootdoop, nadat ek as kind klein gedoop is?

Antwoord:

Omdat hierdie twee vrae met dieselfde saak te doen het, beantwoord ek dit graag saam. 

Om by die antwoorde uit te kom is dit nodig dat ons die betekenis van die doop reg sal verstaan. Die eerste belangrike vraag wat ons moet beantwoord is:

1. Waarvan is die doop ‘n teken?

Ons glo dat die doop ‘n teken is wat God se beloftes vir ons bevestig en nie ‘n teken wat die gelowige se bekering of oorgawe bevestig nie.

Hoekom glo ons so?
Toe God met Abraham sy verbond (ooreenkoms) gesluit het, het God vir hom ‘n teken gegee, naamlik die besnydenis.

  • Gen 17:10  Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— 11  julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.

Elkeen wat in Jesus Christus glo, kry deel aan hierdie verbond en die beloftes wat God aan Abraham gegee het:

  • Gal 3:29  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.


Ons het dus deel aan dieselfde verbond wat God met Abraham gesluit het. In hierdie verbond werk dit so dat die gelowiges se kinders ook deel het aan die beloftes van die verbond, daarom moes die kindertjies in die OT die teken ontvang.  Nou ontvang die kindertjies die doop as teken omdat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.

As iemand aan Christus behoort en deel het aan die beloftes, dan behoort die beloftes ook aan daardie persoon se kinders:

  • Handelinge 2:39  "Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Die doop is dus ‘n teken wat bevestig dat God sy beloftes aan hierdie kindjie skenk. Wanneer die kindjie groot word moet die ouers hom/haar leer wat hierdie beloftes beteken en ook van die God wat hierdie beloftes gee. Wanneer die kindjie grootword en God en sy beloftes leer ken, kan die Heilige Gees geloof en liefde in die kind se hart werk. Wanneer die kind God liefkry en die beloftes wat hy/sy in die doop ontvang het vir hom/haar kosbaar is, eien hulle die beloftes toe en leef met vreugde daaruit. Daar kan in so kind se hart die begeerte groei om sy/haar geloof en liefde openlik voor die gemeente te bely. By geloofsbelydenis (sommige noem dit aanneming) sê die kind dat hy/sy die beloftes van God aangeneem het en dat God sy/haar God is. Geloofsbelydenis is dus die bevestiging van die antwoord wat die kind gee op God se beloftes.

2. Weer doop?

God is getrou. Wanneer Hy eenkeer belowe het gaan Hy nie terug op sy beloftes nie. Wanneer Hy die teken van die doop eenkeer vir iemand gegee het, kan daardie persoon net altyd weer teruggaan na daardie teken om daarin bevestiging te kry dat God se beloftes vasstaan vir jou persoonlik. Ek hoef dus nie weer gedoop te word nie. Om my weer te laat doop is eintlik om God se eerste teken in twyfel te trek.
Sommige mense dink aan die doop as ‘n teken wat my bekering bevestig. Hulle sien dit dus as ‘n teken van iets wat ek gedoen het. Wanneer iemand dit so sien, sou dit konsekwent wees wanneer so iemand elkeer as hy/sy afgedwaal het en bekeer, weer gedoop word. Dit sou beteken dat ‘n mens dalk verskeie kere gedoop moes word. Ons glo dat ek, wanneer ek afdwaal net weer kan terugkom na die doop as teken van God se beloftes. Hy het dit eenmaal op my naam aan my bevestig en die beloftes bly staan tot my dood. Ek moet dit net vir myself vat en my eie maak deur die geloof.

3. Om julle vrae reguit te antwoord:

Is dit reg as die NG Kerk tydens 'n voorstel en aannemings seremonie 'n bad in die kerk inbring en 'n groot doop doen?
Ek glo hulle gebruik die doop dan vir iets waarvoor dit nie bedoel is nie, naamlik om die geloofsbelydenis te bevestig en nie soos God dit voorskryf as ‘n bevestiging van sy beloftes nie. Ons het nie iets ekstra nodig nie, geloofsbelydenis voor die gemeente is reeds ‘n heerlike gebeurtenis.

Kan ek nog met vrymoedigheid 'n lidmaat van die GK wees (my vereenselwig met die GK) as ek myself wil laat grootdoop, nadat ek as kind klein gedoop is?

Ek sou aanraai dat jy ‘n persoonlike gesprek met jou predikant of iemand met die nodige kennis voer. Jou besluit om deel te wees van jou gemeente (GK) berus nie net op een daad nie, maar op jou oortuiging waar jy die Here die beste kan dien. Ek het hierbo baie kortliks die gereformeerde siening van die doop uiteengesit, daar kan egter nog baie meer bevestiging verkry word vir die oortuiging. Voor jy jou laat herdoop, praat asb met iemand wat jy kan vertrou en wat die kennis het.

Dr Gert Breed

Opvlieëndheid

Vraag:  Ek worstel ernstig met opvlieëndheid wat gevolg word deur vloekwoorde en die ydellike gebruik van God se naam. Ek het groot berou daarna maar dit gebeur dag na dag. Ek weet nie meer wat om te doen nie. As die geringste dingetjie verkeerd loop raak ek opvlieënd. Daar is nie eers tyd om tot 2 te tel nie, vergeet van tot tien te tel, dis oombliklik.

Nadat ek Efesiërs 4:28-32 gelees het is ek EERS bekommerd. Ek het al SO baie gebid hieroor maar ek raak net nie ontslae van die opvlieëndheid nie. Daar is dae wat dit glad nie gebeur nie dan is ek SO bly in my binneste en ek dank die Heer daarvoor net om die volgende dag weer opvlieënd te raak oor die een of ander onbenulligheid.

Antwoord: 

Menslike woede is ʼn natuurlike menslike emosie, weliswaar ʼn reaksie op die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het.. Die Here hou selfs rekening daarmee dat mense kwaad kan word, maar Hy aanvaar dit nie. Vgl. Efes.4:26: As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ʼn dag kwaad afsluit nie. Hy wil dus hê dat ons ons kwaad-word reg sal hanteer en nie vrede daarmee sal maak nie. Hoe ons ons woede hanteer, is ’n keuse wat ons voor die Here moet maak, sodat dit nie tot verdere sonde aanleiding gee nie. Kwaad word wat nie reg hanteer word nie, lei tot woede! Dit is waarom die Here ons in dieselfde Efesiërs 4:31 leer: Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie... En in Romeine 12:17-19, maan Hy ons om nie ons woede tot sondige gedrag te laat lei en self wraak te neem nie. Ongelukkig word baie mense op wie ons ons onbeheersde woede rig deur ons geknou.

Dit help nie om ons woede te ontken en te onderdruk nie. Onderdrukte woede mag tot probleme in onsself lei soos depressie, pessimisme, ongeduld, ʼn kritiese gees, stres verwante siektes.

Ons doel is nie om ons woede te elimineer nie maar om dit te verstaan, te hanteer en te besluit hoe ons in die toekoms dit moet hanteer. Die volgende stappe help ons om te verstaan hoe om ons woede te hanteer.

Erken dat jy kwaad is en moet dit nie onderdruk of ontken nie. Deur ons woede te erken beteken nie dat ons daarop moet reageer nie. Onthou om woede te ontken of te onderdruk sal dit nooit oplos nie. Neem verantwoordelikheid vir enige onvanpasde woede (Spreuke 28:13).

Probeer verstaan hoekom jy kwaad word en probeer die oorsake isoleer. Pasop vir verskonings soos “dit is ʼn familie kwaal” want dan kom jy nie by die werklike antwoord uit nie. Ons moet die bron van ons woede verstaan. Die wortels wat ons laat reageer op situasies en wat ons woede aan die brand steek is een of meer van die volgende:

o Pyn/Seer (jou hart is verwond): Almal van ons het ʼn God gegewe behoefte aan onvoorwaarlike liefde. Wanneer ons verwerp word of emosionele pyn ervaar gebruik ons baie keer woede as afskrik middel om mense en pyn weg te hou.
Voorbeeld is Josef se broers se woede wanneer Jakob hom voortrek (Genesis 37:3-4).

o Onregverdigheid (jou reg word geskend): Ons almal het ʼn innerlike morele kode met ʼn sin vir reg en verkeerd, regverdigheid en onregverdigheid. Wanneer daar onregverdig teen ons of iemand naby ons opgetree word reageer ons met woede. Indien ons daaraan bly vashou begin onopgelosde woede in ons harte nes maak. Voorbeeld is Jonatan se reaksie wanneer Saul Dawid vervolg (1 Samuel 20:32-34).

o Vrees (jou toekoms word bedreig): Ons almal is geskape met ʼn innerlike behoefte aan sekerheid. Wanneer ons bekommerd raak, bedreig voel, of ons omstandighede verander reageer ons soms met vrees. Dit gebeur selfs wanneer ons minderwaardig of onbekwaam voel. ʼn Bevreesde hart ontbloot ook ʼn gebrek aan vertroue in God se perfekte plan vir ons lewens.
Voorbeeld is Saul se reaksie op Dawid se suksesse op die slagveld (1 Samuel 18:8,12).

o Frustrasie (jou prestasie word nie aanvaar nie): Ons almal het ʼn God gegewe behoefte om iets te beteken (waarde te hê). Wanneer ons pogings in die wiele gery word of ons voldoen nie aan ons eie verwagtings nie, word ons sin vir waarde bedreig. Frustrasie oor verwagtinge waaraan nie voldoen word nie is ʼn groot bron van woede.
Voorbeeld is Kain se reaksie toe sy offer nie aanvaar is nie (Genesis 4:3-5,8).

 Herken en erken wat jy met jou woede wil bereik.
o Wil jy probeer om ander te kry om aan jou standaard te voldoen, of is jy skuldig deur altyd die situasie te vergroot, die ergste te verwag, mense te etiketteer (Spreuke 21:29) of

o Gebruik ek woede as ʼn taktiek om my behoefte aan liefde, erkenning, sekerheid ens. bevredig te kry (Filippense 4:19).
 Laat vaar die eise wat jy stel. In plaas daarvan om van ander te verwag om jou eise/behoefte vir liefde, waarde en sekerheid te voldoen, leer om na ons Vader in die hemel te gaan daarvoor. Wanneer ons twyfel aan God se liefde en sorg, lees van die baie gedeeltes in die Bybel wat oor God se liefde vir ons gaan, byvoorbeeld Jeremia 31:3; 29:11; Psalm 118:6; 2 Petrus 1:3.

Verstaan dat woede ʼn vrug van die vlees is (Gal.5:20) en bely dit voor die Here. Gryp veral vas aan Jesus wat jou verlos het van die beheersing van die vlees deur, in die situasie wat tot woede-uitbarstings aanleiding gee, jou daaraan te herinner dat jy in Jesus se krag dit kan oorwin!

Bid om die vervulling met die Gees, want dit is die Gees wat jou in staat sal stel om Jesus se verlossing vir jou voor oë te hou. Die teenpool van woede is o.a. geduld en vriendelikheid. Dit is vrug van die Gees. Hoe meer jy bid om met die Gees vervul te word, hoe meer sal Hy aan jou sy krag verleen om teen woede te stry. (Ef.5:18; Gal.5:22)

Spreek jou woede aan:
o Bepaal of jou woede werklik geregverdig (Spreuke 21:29).
o Besluit op ʼn toepaslike respons (Prediker 3:7).
o Vertrou op die Heilige Gees vir leiding (Johannes 16:13)
o Ontwikkel konstruktiewe dialoog wanneer gekonfronteer word (Kolossense 4:6)
 Demonstreer die genade van God deur vir jouself te sê:
“en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.” ( Galasiers2:20)