Taal

Teken In

Verjaarsdae

Sondag, 10 Desember

Leana Meyer

Jeanne Sterianos

Hilmer Backer

Dietmar Engler (74)

Maandag, 11 Desember

Ruan Coetzee

Adele Visser

Heinie Groenewald

Chris Joubert

Ilzé Kotzé

Jan De Kloe

Dinsdag, 12 Desember

Leonie Botha

Jannie Van Der Walt

Sonja Balt

Woensdag, 13 Desember

Thato Semenya

Liz Steyn

Wesley Faver

Donderdag, 14 Desember

Cass Hattingh

Lara Van Rooyen

Mariska Van Niekerk

Vrydag, 15 Desember

Luan Kotze

Erich Holz

Johan Knoester

Warrick Beaumont

Chris Venter

Speek Venter

San De Beer (85)

Saterdag, 16 Desember

Chris Du Plooy

Susan Brink

Sondag, 17 Desember

Hettie Vorster-Viljoen

Nelleke Voogt (73)

Dinsdag, 19 Desember

Elani Van Rooyen

André Marais

Philip Van Wyk

Ila Schutte 

Elfrieda Botha (77)

Gert Hatting (82)

Woensdag, 20 Desember

Abraham Theunissen

Krister Janse Van Rensburg

Antoinette Van Wyk

Donderdag, 21 Desember

Gustav Roux

Anke Kotze

Hendri Van Der Loo

Vrydag, 22 Desember

Esti Beaumont

Hennie Serfontein

Douw Venter (85)

Saterdag, 23 Desember

Magna Malan

Jenny Schramm

Watter vase van 'n baba se onwikkeling kry hy 'n siel?

Vraag:  In watter vase van 'n baba se ontwikkeling, hetsy voor of na geboorte, kry hy 'n siel?  Wat gebeur met 'n baba wat binne sy ma dood gaan voor geboorte? Gaan hy Helmel toe? Vaar hy op?

Antwoord: 

Dis vir my en my gesin ’n baie relevante vraag aangesien ons 4 babatjies verloor het aan miskrame.  Dankie vir die moed om te vra!   Die kans is baie goed dat ek nie jou vraag voldoende n in al die detail sal kan beantwoord nie.  Dis baie kompleks en ek dink daar’s ’n groot deel wat die Here net nie aan ons geopenbaar het nie.   My hoop is egter dat dit van hulp sal wees vir jou (veral as dit uit ’n plek van groot hartseer kom) of vir die mense wat dalk antwoorde by jou soek en dat dit vir julle dieselfde diep troos sal gee wat dit vir ons gegee het.  Natuurlik is dit ook my hoop dat die antwoord elkeen wat dit lees sal oproep om opnuut met geloofshande aan Jesus vas te gryp omdat dit soos ek sal probeer wys, implikasies het vir my en my kinders. 

Ek wil die vraag in dele antwoord en ek gee sommer die kort antwoord:

Wanneer kry ’n baba ’n siel? 
 Elke mense leef in God se hart en gedagte voor geboorte.  God weef elke mens  aanmekaar in die moederskoot en dit begin by konsepsie (Ps 139:14-16).
Wie gaan hemel toe?
 Elke wedergebore mens wat sy sonde raaksien en sy geloof in Jesus as verlosser en  Koning bely. 
Wat van die babatjie van gelowige ouers wat doodgaan en dit nog nie persoonlik kon glo nie? 
 Hy of sy is op grond van sy of haar ouers se geloof, ingesluit in die genade verbond  met God en daarom geld die wat Jesus gedoen het ook vir hom of haar.  Hy of sy sal  dus die oomblik wat hulle te sterwe kom, soos ek en jy wat glo, by God wees.  Dit is  die troos van verbondsteologie. 
Wat van die kinders van mense wat nie in Jesus glo nie?
 Ek wil dit graag oorgee in die hande van ons regverdige en genadige God wat nie  soos ons oordeel nie en niemand voortrek nie.

Hier volg die meer volledige antwoord: 

Wanneer kry ’n baba ’n siel?

Ons beste antwoord vanuit die Bybel kry ons in Psalm 139 waar Dawid skryf:

14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.

Ons kan nie hieruit in detail antwoord wanneer presies liggaam en siel bymekaar uitkom nie.  Ek het nog altyd gedink ons maak die onderskeid veels te rigied, maar dit daar gelaat.  Die punt is dat ek alreeds in die Here, die oorsprong van alle lewe, se hart en gedagtes geleef het, , lank voor my geboorte.  Dis Hy wat my dan fisies aanmekaar weef in my moederskoot.  Wat liggaam en siel aanmekaar voeg.  Persoonlik glo ek dus dat dit al begin by konsepsie. 

Die sondeval het die dood gebring (1 Kor 15:56; Jak 1:15).  Daarom sterf babatjies ook alreeds in die baarmoeder.  Dit kan gekoppel wees aan ’n spesifieke sonde van die ma, soos bv. misbruik van alkohol.  Dit kan ook bloot die gevolg wees van die gebrokenheid en sondigheid van die wêreld in die algemeen.  Ons het dus nie altyd (baie min kere) ’n antwoord op waarom dit gebeur. 

Wie gaan hemel toe?

Rom 3 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Almal het gesondig.  Dit geld dus elke mense, elke babatjie selfs!  Dawid skryf:  6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.

Jy hoef maar ’n rukkie met jou eie babatjie te werk om agter te kom dat hy/sy niemand nodig het om vir hom ’n slegte voorbeeld van selfsug te stel nie.  Dit kom natuurlik.  Alles draai om hom of haarself.  Sy soek daai melk nou, maak nie saak hoe moeg of besig haar mamma of pappa is nie, en hierdie selfsug, groei en word net groter en groter tensy daar ’n wonderwerk gebeur en God deur sy Gees ingryp en blinde oë oopmaak om hierdie sonde-kanker raak te sien en na Hom toe te draai. 

Wat gebeur as God hierdie wonder van wedergeboorte in iemand se hart werk?  Geloof is die gevolg en daarom hoor ons die volgende opdrag in die Apostels se gesprek met die tronkbewaarder van Filippi:

Hand 16 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” 31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

In Rom 10 beskryf Paulus dit in meer detail:  9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Dit is interessant dat Petrus in Handelinge 16 byvoeg “jy en jou huisgesin”!  Netnou meer hieroor.

Jesus en sy plaasvervangende kruisdood is dus die enigste pad om met God versoen te word en ’n ewigheid saam met Hom te spandeer.  Elkeen met ’n redelike verstand wat die boodskap kan hoor moet dit glo om gered te word, d.w.s hy of sy moet dit toe-eien, dit vasgryp.  Ek moet bely dat ek ’n sondaar is wat my verlossing in ander dinge en op ander plekke gesoek het en ek moet na Jesus toe draai en my sonde bely en Hom bely as my persoonlike verlosser en vertrou dat dit heeltemal voldoende is om my verhouding met God volkome te herstel.  In Jesus staan ek voor God skoongewas EN regverdig gemaak en word ek ’n erfgenaam van al die beloftes, ’n kind van God wat sal deel in al die hemelse skatte! 

Dis ’n wonderlike troos vir elkeen wat glo!!!  Maar terug by jou vraag: 

Wat van die babatjie wat doodgaan en dit nog nie persoonlik kon glo nie? 

Ek dink die Bybel het ’n diep troos vir gelowige ouers wat babatjies verloor.  Luister na hierdie langerige gedeelte uit die lewe van Dawid.  ’n Bietjie konteks:  Dawid het een van sy soldate, Urija se vrou, Batseba swanger gemaak.  Daarna het hy dit probeer toesmeer deur vir Urija van die veldslag terug te roep en hom probeer dronk maak in die hoop dat Urija by Batseba sal gaan slaap en dink dis sy kind.  Dit het egter nie gewerk nie en Dawid laat vir Urija vermoor en neem vir Batseba as sy vrou.  Sonde het egter gevolge en ons lees hiervan in die volgende gedeelte: 

15Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. 16Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.
Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal ’n onbesonne ding aanvang.”
19Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.
20Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom ’n ete voorgesit en hy het geëet.
21Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”
22Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

Ons sien aan die eenkant die harde werklikheid van sonde nie waar nie.  Die kindjie gaan dood.   Maar dis kragtig om Dawid se troos te sien.  Hy huil voor die Here voor die kindjie sterf, maar as die kindjie doodgaan staan hy op en sê:  Kan ek hom na my toe laat terugkom?  Ek gaan na hom toe, hy kan nie na my toe terugkom nie.

Dis diep troos vir elke gelowige ouer wat ’n babatjie verloor!   Ek gaan na hom of haar toe, waar Hy of sy by die Here is! 

1 Cor 7:14 bevestig vir my hierdie troos.  Paulus praat met mense wat heidene was en nou tot bekering gekom het, glo in Jesus, maar wat nog met ’n huweliksmaat getroud is wat nie glo nie en hy moedig hulle aan om nie van hierdie huweliksmaat te skei nie, veral nie as die huweliksmaat nie in hulle pad staan om die Here te dien nie.  Hier is sy motivering:  14Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.  

Wat ’n troosvolle stelling dat my kind, omdat ek in God glo en ’n nuweverhouding met Hom leef, aan Hom behoort.  Dit sluit aan by dit wat Petrus hulle vir die tronkbewaarder gesê het:  “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Dit sluit egter nie uit dat my kind, wanneer hy of sy groot word, ook persoonlik moet glo in Jesus as sy of haar verlosser nie.   Maar dit gee vir my diep troos wat betref my kindjie wat nog nie sy of haar geloof so kon bely het nie, en gesterf het. 

Ek en Erna dank die Here om hierdie rede gereeld vir ons kinders wat reeds by Hom is.  Ja ons sou hulle graag wou ken hier en nou.  Maar ons hier en nou gaan so vinnig verby en ons sien uit om ’n ewigeheid saam met hulle te spandeer.  

Wat ek hier bo uiteengesit het staan bekend as verbondsteologie.  Dit is die oortuiging dat die Here ’n genadeverbondsluit, nie net met my as gelowige nie, maar met my en met my nageslag na my, tot in die duisendste geslag wat Hom lief het en sy gebooie gehoorsaam net soos wat Hy met Abraham gedoen het in Gen 12 en 15.

Dit is geen versekering dat my kinders “outomaties” gered word nie.  Ek herhaal, wanneer hulle groot word moet hulle die beloftes van sy genade in Jesus vasgryp met geloofshande, hulle eie maak en uit die krag van sy liefde moet hulle Hom persoonlik aanhang, liefhê en dien. 

Petrus tel hierdie verbondstaal op as hy in Handelinge 2 skryf:  39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

Wat van die kinders van mense wat nie in Jesus glo nie?

Ek kan nie die selfde troos en sekerheid gee uit die Bybel wat ek kan gee vir gelowige ouers wat kinders verloor nie. 

Wat ek wel kan sê as dat God regverdig en genadig is.  Hy oordeel nie soos ons nie.  Hy trek nie voor nie.   Ek wil dit graag oorgee in sy hande en sê U sal besluit en wat U besluit sal reg en goed en regverdig en genadig wees en dit sal wanneer ek eendag self by U is, vir my sin maak.  Almal wat in die hemel is, sal daar wees op grond van sy oorvloedige genade in Jesus.  Niemand sal in die hel (dis die ewige lewe sonder God) opeindig, wat nie hulle rûe op een of ander manier op hierdie op Hom en sy liefde gedraai het nie.   

Dit maak natuurlik die oproep dringend:  “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”  My geloof het implikasies, nie net vir my nie maar vir my hele huisgesin! 

Groete

Thomas 

 

Verassing

Vraag:  Wat is die Gereformeerde Kerk se standpunt oor verassing?

Antwoord: 

Hier volg ’n verslag wat deur GK Randburg goedgekeur is en wat hopelik jou vraag antwoord

1.  Misbruik van die Bybel.
Dikwels word tekste aaneengeryg om daarmee aan te toon dat lykverbranding verkeerd is.  Hierdie tekste word egter buite konteks en daarom onregmatig as bewysplase gebruik.

Voorbeelde:
Levitikus 19:28 verbied Israel om in hulle rouproses hulleself stukkend te sny ter wille van die een wat dood is.   Duidelik handel hierdie teks glad nie oor lykverbranding nie maar oor 'n daad waaraan 'n bepaalde (bygelowige) betekenis geheg is.

Levitikus 17:11 verbied Israel om 'n bepaalde heidense gewoonte na te volg.  Hierdie verse het weereens nie direkte verband met lykverbranding nie maar verbied Israel om aan die simboliese betekenis van hierdie gewoonte te glo.

So kan na verskeie ander gedeeltes verwys word wat by die hare bygesleep word sonder deeglike eksegese.

2  Riglyne vir die beoordeling van verassing.

2.1 Die mens se liggaam is vir God kosbaar en sy eiendom.
• Die mens se liggaam is deel van die beeld van God wat Hy in die mens ingeskape het en moet daarom met respek behandel word (Genesis 1:26).

2.2 Begrafnis word in die Bybel vir ons geteken as 'n daad van eerbetoon aan die gestorwene.
Gen 15:15  Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.

2.3  Mense wat 'n bepaalde sonde gedoen het is met vuur verbrand as straf en as teken van afkeer van die sonde en ook van God se torn oor die sonde.
Lev 20:14 
En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad;
hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand:
daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.

2.4  Begrafnis word as 'n simboliese daad gesien wat die geloof in die opstanding uit die dood bevestig.

1Kor 15:40-44
  En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.
So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

Omdat hierdie gedeelte egter nie primêr handel oor die vraagstuk van begrafnis teenoor verassing nie, kan dit nie sondermeer as bewys aangevoer word om verassing te veroordeel nie.  Paulus verduidelik in die eerste plek in hierdie gedeelte hoe die opstandingsliggaam verskil van ons huidige liggame.  Alhoewel begrafnis hierdie simboliek van saad wat gesaai word baie duideliker na vore laat kom, sou iemand met reg kon redeneer dat dit wat Paulus hier sê ook geldig is vir 'n verasde liggaam.
 
Die daad van begrafnis het egter ook 'n bepaalde terapeutiese waarde omdat die gelowige dit kan beleef as die toevertrou van die persoon se liggaam aan God om dit weer op die laaste dag op te wek.

3.  Sinodebesluit 1933 (Acta p117) en 1952 (Acta p208,216)
In hierdie besluite het die Sinodes hulle teen lykverbranding en ten gunste van begrafnis uitgespreek.  Spoelstra (V1989:359) sê dat die aspek van geloof, motiewe en gesindheid sterk na vore kom in hierdie besluite.  Hy sê  verder:  "Wanneer familie met lykverbranding gekonfronteer word, het hulle dikwels behoefte aan gerigte pastorale begeleiding by die krematorium. Die predikant moet sy optrede volgens sy gewete bepaal."

Nog 'n verklaarder van die kerkorde sê: "die uitspraak van die sinodes is beginselbepalings ten opsigte van die lewende.  Hulle moet die christelike weg ken en volgens die geloofsbeginsel aan hulle familie opdrag gee hoe daar gehandel moet word wanneer die dood intree."  Met ander woorde lidmate moet vroegtydig toegerus word met kennis oor wat die Bybel ons leer sodat hulle voor hulle dood die keuse vir begrafnis kan maak.

Die sinodes het met hierdie besluite nie begrafnis 'n kerklike saak gemaak nie. Dit bly in die eerste plek 'n saak van die familie.  Die kerkraad kan wel die lidmate leiding gee in hierdie verband.


4.   Gevolgtrekking.
• Die Bybel praat hoofsaaklik negatief oor lykverbranding en positief oor begrafnis.
• Daar is egter geen eksplisiete verbod op verassing in die Bybel nie, wel 'n afkeur van praktyke wat op heidense bygelowe gegrond is.
• Indien verassing gedoen word uit minagting vir die liggaam of op grond van 'n bygeloof, is dit verkeerd in die oë van die Here.
• Mense wat hulle geliefdes veras, mis die simboliese en terapeutiese waarde van die begrafnis.
• Die tyd om te praat oor die vraag van verassing of nie, is nie na die dood van 'n geliefde nie.  Die gemeente moet tydig en gereeld ingelig word oor wat die Bybel hieroor sê.
• Wanneer 'n predikant na die dood van 'n lidmaat gekonfronteer word met die feit dat dit die oorledene of die familie se wens is om die liggaam te veras,  moet dit nie in sy pad staan om hulle steeds pastoraal te begelei - ook deur 'n troosdiens te hou - nie.

5.   Aanbevelings.
5.1  Die kerkraad vereenselwig homself opnuut met die besluite van die sinodes oor verassing.
5.2 'n Studiestuk word aan die gemeente gegee om hulle in te lig oor wat vir ons duidelik is oor verassing in die Bybel.
5.3  Wanneer predikante met die wens van die oorledene of familie vir verassing gekonfronteer word, versorg hulle die lidmate pastoraal soos nodig.


Dr Gert Breed

Huwelik hulp nodig. Ek wil nie skei nie.

Vraag:  My vrou het uit die huis getrek. Daar is nog nie dagvaarding nie, maar ek mag haar nie per sms, telefoon of in persoon kontak nie.  Geen derde party betrokke. Sy word behandel vir depressie wat verkeerd gediagnoseer is. Hoe nou gemaak.  Ek wil nie skei nie.

Antwoord: 

Ek het oneindig deernis met jou.  Want hoe los mens ‘n probleem op tussen twee persone waar albei betrokke is, maar die een party ontoeganklik is.
Ek wil begin deur vir jou ‘n paar Bybelse beginsels ten opsigte van die huwelik te gee (daar’s nog meer).  Die bedoeling hiermee is egter nie om vir jou bepaalde voorskrifte te gee en dat jy vir haar daarmee moet konfronteer/beskuldig, in die hoop dat dit die probleem sal oplos nie.  Die bedoeling is dat ons net weer verstaan waar die huwelik vandaan kom en wat ons wedersydse optrede daarin moet wees, sodat ons kan sien waarheen ons moet werk (en miskien waaraan jy vroeër nie genoegsaam gewerk het nie).
‘n Eerste beginsel:  God het die huwelik ingestel.  Gelowig moet ons aanvaar dat die Here julle na mekaar toe gelei het en daarom mag ons die samevoeging nie sommer verbreek nie.  (Gen.2:21-22; Mat.19:6)
‘n Tweede beginsel: Huwelik is ‘n permanente verbintenis tussen twee persone waarin albei mekaar se eerste prioriteite is (Gen.2:24).  Dit beteken dat niks tussen julle mag inskuif nie, niks en niemand belangriker sal wees as jou huweliksmaat nie.
‘n Derde beginsel: Binne die huwelik gee die Here vir die huweliksmaats bepaalde opdragte wat verantwoordelikhede (pligte) teenoor mekaar beteken.
• “Wees daarom uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef.5:21).  Hierdie mekaar-onderdanigheids-opdrag beteken dat julle so volkome op mekaar ingestel moet wees dat die een die ander se geluk belangriker ag as sy/haar eie. Die vrou se opdrag is om haar deur haar man te laat lei ter wille van hul gemeenskaplike belang.  Die man se opdrag is om sy vrou lief te he, wat impliseer dat hy bereid moet wees om homself (en sy belange) te “kruisig” om haar as vrou te eer en gelukkig te maak. (Ef.5:22 ev.)  Ek kom weer hierop terug.
• “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man.  Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.  Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ‘n bepaalde tyd om julle aan gebed te wy.  Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie”  (1 Kor.7:3-5).  Dit gaan hier spesifiek oor die seksuele binne die huwelik en die inhoud spreek vanself.

Die uitdaging is: hoe kommunikeer mens die beginsels as die een party nie wil kommunikeer nie.  Die een manier hoe om dit NIE te doen nie, is dat jy dit as ‘n wet vir jou vrou (of julle vir mekaar) voorhou en haar (of mekaar) daaroor verwyt.
Die pad wat ek wil voorstel, is dat julle dringend vir pastorale berading gaan.  Dis duidelik dat julle die situasie nie self kan hanteer nie.  Die fasette, volgens my mening, wat in so ‘n beradingsessie hanteer moet word, is:

• Die oorsaak van haar depressie moet hanteer word (‘n goeie anti-depressant is altyd ʼn goeie begin).

• Sy moet geleentheid kry om haar ervaring van jou optrede teenoor haar te kan verduidelik. 

• Jy moet begelei word om te verstaan dat- en wat jy, volgens haar, verkeerd gedoen het en jy moet bereid wees om te aanvaar dat sy jou optrede so kon ervaar.

• Sy moet begelei word om jou te vergewe – deur die versoening van Jesus vir haar sonde en vir joune te verkondig.

• Saam moet julle ondernemings teenoor mekaar te maak soos in Ef.5 om mekaar te dien soos in Beginsel 3 (hierbo) verduidelik is.  Die beginsel van Fil.2:3,4 is hier ook gepas: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van die ander”.  Dis hoe Christus, ons Verlosser, teenoor ons gedoen het.

• Indien sy nie toestem tot pastorale berading nie en jou steeds ‘n koue skouer gee, hef dit nie jou verantwoordelikheid op om haar “lief te hê” soos Ef.5 sê nie.  En hierdie liefde word nie opgewek deur iets moois of goeds wat sy aan jou doen nie.  Dit is ‘n liefde ten spyte van...  Hoe mens dit doen, word in Fil.1:9-10 mooi beskryf: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom”.  Dit beteken: leer haar “liefdestaal” verstaan sodat jy sal weet hoe sy liefgehê wil word en wat haar werklik gelukkig maak.  Doen dit – daar’s gewoonlik nie verweer teen sulke onvoorwaardelike liefde nie.

• Normaalweg, as jy bogenoemde paadjie loop, behoort dit ʼn positiewe uitwerking op julle huwelik te hê.

• ʼn Laaste opmerking: as sy die “deur” aanhoudend toe maak vir jou, maak sy die moontlikheid vir versoening ook toe.  En dan moet mens die hartseer-realiteit van ons sondige bestel aanvaar... en biddend vergewing en genesing by die Here soek.  Hy sal jou nooit in die steek laat nie, jou nooit verlaat nie (Jos.1).

Ek bid werklik vir jou en vir jou vrou, dat Hy julle harte vir mekaar sal oopmaak.  Kontak gerus enigeen van ons dominees as jy (julle) wil kom vir pastorale hulp.
Sterkte.

Ds. Charl van Rooy

 

Nabetragtingsdiens

Vraag:  Waarom volhard die Gereformeerde Kerk met die hou van nabetragtings dienste na Nagmaal as dit duidelik ‘n besluit van mense was-  Vir die ontstaan daarvan moet ons ook weer gaan na die vlugteling- gemeente te Londen. In Nederland het die Sinode van Dordrecht, 1574, dit liturgies verstaan as 'n náviering, as post-communio. Kom hierdie gebruik nie neer op gewetens binding nie. Nie soseer die diens nie, maar die feit dat art. 62 KO aan kerkrade die geleentheid bied om die noodsaaklikheid van n nabetragtings diens aan die hand van n kerkorde te bevestig.

Antwoord: 

Jy is duidelik goed ingelig oor die historiese ontstaan van die eredienste rondom Nagmaal.  Wat jy hierbo meld oor die ontstaan van nabetragtingsdienste, is ook van toepassing op voorbereidingsdienste.  (Daarom gaan ek ook lg. insluit in die antwoord).  a’Lasco het, byvoorbeeld, in die vlugtelingekerk van Londen geëis dat Nagmaal 14 dae voor die tyd bekendgestel moet word sodat elkeen hulleself deeglik voor God kon “beproef”.  Calvyn het in Straatsburg van die voornemende Nagmaalgangers verwag om weke voor die tyd hulleself by hom en die ouderlinge aan te meld met die oog op behoorlike voorbereiding”.

Hoewel sekere Kerkreg handleidings die vier van voorbereidings- en nabetragtingsdienste onder Art 62 van die KO behandel, word die instelling van bg. dienste nie deur Art 62 KO gereël nie.
Art. 62 KO handel oor Nagmaal self en skryf die wesentlike elemente wat by die Nagmaalviering tuishoort (volgens ons Gereformeerde verstaan daarvan), voor – soos dat Nagmaal ʼn geloofsgemeenskap karakter moet hê (Christus as Gasheer saam met sy verlostes); dat gewone brood en wyn gebruik moet word; dat die formule by die uitdeel van die tekens (1 Kor.11:23-25) gebruik word, die lees van die formulier ens.
Art. 62 KO waarsku ook dat ons nie mekaar se gewetens mag bind oor middelmatige sake tydens Nagmaalviering nie, bv. om Nagmaal sittend of staande te gebruik, Skrifgedeelte lees na Nagmaal, of en watter liedere gesing mag word met die viering nie.

Die hou van voorbereidings- en nabetragtingsdienste is inderdaad deur mense besluit (soos wat jy skryf).  Dit het, volgens kerkregtelikes, deur die gewoontereg in die Gereformeerde kerke geyk geraak.  Dit is dus nie ʼn kerkordelike voorskrif of ʼn kerklike besluit wat almal verplig is om te onderhou nie (en waaraan ons mekaar se gewetens mag bind nie).  Daarom “volhard Gereformeerde Kerke met die hou van die dienste”, en ander (ook Gereformeerde Kerke) dalk nie. 
Ek is egter van mening dat dit ʼn baie goeie gebruik is, wat in lyn is met die gepaste viering van Nagmaal, veral in die lig van 1 Kor.11:27-29:
27Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself.

Die Nagmaalsformulier onderskei in die ware selfondersoek drie hoofpunte:
1. Die stil word en bewus raak van ons sonde en vervloeking voor God wat ons tot berou moet bring.
2. Oproep tot geloof in die beloftes van God dat Jesus Christus volkome en klaar daarvoor betaal het. 
3. Die opregte begeerte om met ons hele lewe dank aan God te bewys deur liefde en eensgesindheid. 

Al drie hierdie elemente is heer-like “aanwysings” wat ons help en begelei om “gepas” Nagmaal te vier.  Hoewel hierdie manier van selfondersoek veral voor die Nagmaalviering gedoen behoort te word, bied elke diens die geleentheid om dele daarvan te beklemtoon: Met voorbereidingsdiens is dit gepas dat die gemeente tot sonde-besef, berou en oproep tot geloof aangespoor word.  By Nabetragting moet die begeerte en voorneme tot ʼn dankbare lewe gehoor word en moet die gemeente prinsipieel begelei word om inderdaad dankbaar vir die verlossing te gaan leef.

Dus, hoewel ons mekaar se gewete nie aan die gebruik mag bind nie, bly dit ʼn Bybelse manier om gelowiges by te staan en te bedien om Nagmaal reg en troosryk te vier.  Wat my betref kan ons gerus maar daarmee volhou.

Ds. Charl van Rooy

My vraag is direk oor jou lewe tans en die Here se plan vir jou

Vraag:  Die Bybel se dat as mens die regte pad met God stap dan maak hy jou pad reguit.  My situasie is nogals uniek dat ek werk doen wat ek nie voor gekwalifiseer is nie en ook nie baie ondervinding in het nie.
Dit plaas geweldige druk tans op my en ek vra daagliks vir die Here om my te help.
Die Here weet wat mens se lewe in hou nog voor mens gebore is.
Ek voel net dat die situasie my eie skuld is en weet nie hoe om dit beter te maak nie.
Wat moet ek doen?

Antwoord: 

Uit jou vraag hoor ek twee sake:

1. Jy leef naby aan die Here, is en wil gehoorsaam aan Hom bly in jou daaglikse lewe, ook jou beroepslewe...  Dit is bewonderingswaardig!

2. Jy is onseker oor God se “plan” met jou, dat jy daarbuite kan beweeg, nie die regte pad met God stap nie en gevolglik dat Hy nie jou pad reguit sal maak nie (verwysing na Spreuke 3:6?)
In die lig hiervan verstaan ek dat jy die tipe vrae vra: dis ʼn manier om sin te probeer maak oor jou bestaan en seker te maak dat jy die regte ding voor God doen.

Ek wil hierop probeer antwoord deur aan te sluit by jou verwysing na Ps.139.  Dit is so dat die digter van Ps.139 bely dat die Here ons “al gesien het toe ons nog in ons moederskoot was” (vs.15-16).  Die wonderlike is dat die gedagte die Psalmdigter nie bang en onseker maak nie, maar eerder vervul met verwondering (vs.17-18).

Die groot vraag is: het God voor ons geboorte al ʼn spesifieke “meesterplan” vir ons elkeen se lewe vasgestel wat ons met groot moeite moet probeer vasstel om dan binne die wil van God te leef?  Ek bedoel: het God beplan wat en waar ek moet gaan studeer of watter werk ek moet doen, watter motor of huis ek moet koop ens.?

Ek dink nie so nie!  Behalwe dat die Bybel (God se Woord waarmee Hy sy wil aan ons openbaar) nie ʼn indiwiduele plan vir elkeen se lewe “voorskryf” nie, word dit uiters problematies om so ʼn lewe te probeer leef.  Gestel iemand gaan dalk buite God se plan (nie moedswillig nie) en trou (onwetend) byvoorbeeld met die “verkeerde” persoon.  Dan kan die persone wat God eintlik vir hulle albei (man en vrou) “beplan” het, natuurlik nie meer met hulle regte maats trou nie.  En dié maats ook nie met hulle “beplande” maats nie...  Ek hoop jy sien in dat mens jou vorentoe vasloop as jy so begin redeneer.

Toegepas op jou vraag.  Tree jy buite God se “plan” (wil) op deur ʼn bepaalde werk te doen waarvoor jy nie opgelei is of ervaring het nie?  Ek meen dit is onnodig om ʼn vreeslike (en onsekere) soektog en selfverwyt op tou te sit om dinge uit die Bybel te probeer aflei wat die Bybel nie regtig bedoel om te sê nie.  Om eerlik te wees: die groot saak vir God is nie, in die eerste plek, of jy ʼn onderwyser, ʼn verpleegster of ʼn sekretaresse is nie, en of jy iets anders doen as waarvoor jy opgelei is nie.  Daarmee sê ek nie dat God nie ʼn doel met jou lewe het nie.  Hy praat net wyer en heerliker oor mense se lewens.

Die belangrikste wat ek hieroor in die Bybel lees, vind ons in 1 Kor.10:31: Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

Hoe doen ons dit?  Ek wil graag hiermee vir jou ʼn paar “merkers” gee waaraan jy kan weet of jy so, “alles tot eer van God”, doen:

1. Dit moet uiteraard ʼn lewe wees volgens die Here se wil?  Vra mens wat is sy wil, moet ons nie gaan spekuleer nie.  Sy wil is tog duidelik in sy Woord.  Ons kry dit o.a. in die 10 gebooie (Eks.20), in die waarskuwings en aanmoedigings van die profete, Jesus se bergpreek (Mat.5-7), Jesus se opsomming van die wet (Mat.22:34 e.v), die vermanings in die briewe ens. 

1.1. Toegepas op jou werksituasie?  Lees Kol.3:22-24: Moenie net werk om deur hulle (die base) raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ʼn opregte hart uit eerbied vir God.  Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie...
Dus, God se wil lê eerder op ‘n ander vlak, nl. dat jy op ʼn bepaalde manier sal leef en werk – of jy nou ʼn onderwyser of sekretaresse of wat ook al ek is en doen. 

1.2. Toegepas op die beroep wat mens kies?  Daar is sekere beroepe wat eenvoudig teen sy wil is (soos prostitusie en dwelmhandelaar).

2. Die Here het elke mens uniek gemaak met vermoëns en spesifieke aanlegte en talente (Gen.1:27).  Kies ʼn beroep waarin jy die spesifieke vermoëns en aanleg wat Hy jou gegee, goed en tot sy eer sal kan gebruik.  Al beteken dit ook dat jy iets anders doen as waarvoor jy gekwalifiseer is.  (Ek ken tientalle mense wat iets anders gaan doen het as waarvoor hulle opgelei is).
Indien die beroep egter, wat jy tans beoefen jou uit jou diepte laat voel, begin ander opsies soek.  Indien jy geniet wat jy doen, gaan voort daarmee.  Jy sal nie, in die lig van wat hierbo gesê is. buite die Here se plan met jou optree nie.

3. Die Here beskik sekerlik ook geleenthede op mense se pad waarin jy “aangetrokke” voel omdat dit by jou uniekheid, jou talente en persoonlikheid en vermoëns, pas.  Gryp die geleentheid aan al is dit iets anders as waarvoor jy gekwalifiseerd is.
Uiteindelik is ek en jy self vir ons keuses en besluite verantwoordelik.  God besluit nie vir my (iewers in die ewigheid) en ek moet dit net in die Bybel probeer “uitvind” en uitvoer nie.  Ek moet self verantwoordelikheid aanvaar nadat ek in alles wat ek doen punte 1-3 oorweeg het.

En ontspan...
ʼn Laaste opmerking: As jy iets van God se “plan” met jou lewe soek, lees gerus Rom.8:28-30.  Dis ʼn verlossingsplan wat Hy Self deur Christus en die Gees vir die gelowige sal uitvoer – tot aan die heerlike einde daavan:
28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Ds. Charl van Rooy