Taal

Teken In

Verjaarsdae

Sondag, 10 Desember

Leana Meyer

Jeanne Sterianos

Hilmer Backer

Dietmar Engler (74)

Maandag, 11 Desember

Ruan Coetzee

Adele Visser

Heinie Groenewald

Chris Joubert

Ilzé Kotzé

Jan De Kloe

Dinsdag, 12 Desember

Leonie Botha

Jannie Van Der Walt

Sonja Balt

Woensdag, 13 Desember

Thato Semenya

Liz Steyn

Wesley Faver

Donderdag, 14 Desember

Cass Hattingh

Lara Van Rooyen

Mariska Van Niekerk

Vrydag, 15 Desember

Luan Kotze

Erich Holz

Johan Knoester

Warrick Beaumont

Chris Venter

Speek Venter

San De Beer (85)

Saterdag, 16 Desember

Chris Du Plooy

Susan Brink

Sondag, 17 Desember

Hettie Vorster-Viljoen

Nelleke Voogt (73)

Dinsdag, 19 Desember

Elani Van Rooyen

André Marais

Philip Van Wyk

Ila Schutte 

Elfrieda Botha (77)

Gert Hatting (82)

Woensdag, 20 Desember

Abraham Theunissen

Krister Janse Van Rensburg

Antoinette Van Wyk

Donderdag, 21 Desember

Gustav Roux

Anke Kotze

Hendri Van Der Loo

Vrydag, 22 Desember

Esti Beaumont

Hennie Serfontein

Douw Venter (85)

Saterdag, 23 Desember

Magna Malan

Jenny Schramm

Wat is die omkeerstrategie in gemeentes?

Vraag: In leke terme, wat beteken die omkeerstrategie en hoe implementeer ons dit in ons gemeentes op 'n praktiese manier?

Antwoord: Ek kan maar net my eie verstaan daarvan gee, so hier kom dit.  Ek dink daar het oor die laaste klompie jaar ’n dringendheid, ’n behoefte gegroei onder lidmate van die GKSA om dit wat in Handelinge 2:42-47, veral vers 47 beskryf word te beleef.   Hier’s wat in Handelinge gebeur.  Petrus preek en die Heilige Gees werk en dan lees ons:

41) Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42) Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.  
43) Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44) Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45) Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46) Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47) en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Ek persoonlik vra die Here al ’n geruime tyd om te beleef hoe Hy elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Wat egter baie duidelik word in Handelinge 2 is dat die Here die mense kon byvoeg omdat die gemeente daarvoor gereed was!  Dit was mense wat so diep in die hart gesny is deur die evangelie (Handelinge 2:37), dat hulle groot erns gemaak het met die Here se Woord (die leer van die apostels), met geloofsgemeenskap (onderlinge verbondenheid), met praktiese sorg en omgee vir mekaar (gemeenskaplike maaltye) en gebede (aanbidding van God).   Hulle was dus ’n gemeenskap waarby die Here met vrymoedigheid nuwe mense kon voeg, omdat Hy geweet het hulle sou van daardie mense dissipels van Hom en vir hulle leer om alles te onderhou wat Hy beveel het.

Ek dink dus die omkeerstrategie behels dit: 

  • ’n Ernstige terugkeer na die Here se Woord!  Om die evangelie van genade weer vas te gryp en vanuit die genade in Jesus, die nuwe identiteit as sy vrygemaakte verloste kinders van Hom te gaan doen wat Hy vra.  Ons moet gaan dissipels maak deur woord en daad!   
  • Die hart van dissipelskap en van dissipels maak is om lief te wees vir mense wat dit nie verdien nie: om mekaar en die wêreld waarin hy ons geplaas het met sy liefde te gaan lief hê.  Dit behels natuurlik om te praat oor wat verkeerd is, onverskrokke sy Waarheid te verkondig, maar ook om in te spring en iets daaraan te doen binne ons gemeenskappe wat stukkend is as gevolg van die sonde!  Om praktiese onderlinge liefde uit te leef en dienend ’n verskil te gaan maak orals waar ons leef. 
  • Om dit alles biddend te doen:  om ’n lewe van aanbidding te gaan leef!   Ons is absoluut in alles afhanklik van Hom. 

Die omkeerstrategie gaan dus, as jy dit sien soos ek dit hier beskryf het, nooit iets wees wat van bo af, deur ’n sinode uitgedink en geïmplementeer kan word nie.  Ja, die deputate gaan hopelik gesprekke fasiliteer om mense opgewonde te maak, te inspireer, toe te rus.  Hulle gaan ook sekerlik help om strukturele dinge wat in die pad van so ’n omkeer kan staan uit die weg ruim, maar die regtige omkeer, moet die Heilige Gees doen in mense se harte!  In my hart en in jou hart!  

Hier’s die vraag wat die Gees vir ons wil kom vra:  Is jy in die hart gesny (diep getref) deur God se radikale genade en liefde en Jesus?  Het jy al sonder enige agenda gevra soos daardie eerste aanhoorders van die boodskap:  Wat moet ek doen?  (Hand. 2:37).  Wanneer laas het jy grondig tot bekering gekom?  Voor die Here neergeval oor jou opstandigheid en sonde en liefdeloosheid? (Hand 2:38-41)  Ons (gelowiges, “gereformeerdes”) het mense geword wat so vir onsself leef, so dieselfde lyk as almal om ons, dat ons regtig nie meer veilige plekke is waarna die Here mense kan stuur om meer van Hom te leer nie.   Ons, ek en jy, moet tot bekering kom! 

Hoop dit help!
 

Thomas Dreyer

 

 

Mag gelowiges versekering uitneem?

Vraag: Moet 'n gelowige hom/haarself en sy bates verassureer? En dan hoeveel assuransie moet 'n gelowige hê of nie hê nie? Daar word heeltyd gesê mens moet:
1. Lewensversekering hê - sodat jou afhanklikes versorg kan wees as jy te sterwe sou kom;
2. Inkomste 'protection', in geval jy medies ongeskik word;
3. Voorsiening vir aftrede;
4. Jou bates 'beskerm'.

Dit hou net nie op nie...en mens voel mens maak net die versekeraars ryk - so moet mens enigsins verseker vs. op die Here vertrou vs gelowiges word ook nie rampe gespaar nie?  Wanneer is genoeg genoeg? Wat is genoeg versekering vir 'n gelowige? Sê maar as persentasie van bruto inkomste? Of moet mens nie verseker nie - en net op God vertrou?

Antwoord: 'n Gelowige se roeping is om 'n rentmeester te wees oor die eiendom en besittings waarmee die Here hom seën. Die begrip "Rentmeester" het twee betekenisse: bestuurder en toesighouer. Matteus 25 se gelykenis van die muntstukke praat hiervan: 21) Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ Let op dat die eienaar ook praat van rente verdien teenoor die slaaf wat niks gedoen het met die geld wat aan hom toevertrou is nie.

Om 'n rentmeester te wees, beteken dat jy:
 • Getrou is met al jou hulpbronne
 • Getrou is ongeag hoeveel jy het
 • Getrou is in die klein dingetjies
 • Getrou is met ander se besittings

Daar is natuurlik regte en verkeerde redes waarom mens versekering uitneem en spaar.

Die verkeerde rede word in 1 Timoteus 6 aangedui: "Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes
 waardeur mense in verderf en ondergang gestort word" 10) Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. 11) Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug.

Goeie doelwitte om te spaar en voorsiening te maak vir jou aftrede sluit in:

• Om vir jou gesin te voorsien,
 • Vir jou kinders se opleiding
 • Om finansieël onafhanklik te word sodat jy ander kan help.
 • Om jou eie besigheid te begin sonder skuld
 • Om vir jou aftrede voorsiening te maak wanneer jy nie meer kan werk nie

Die beginsel is dus dat alles wat jy besit aan die Here behoort en jy bestuur dit biddend eerlik en verantwoordelik met die regte motiewe en doelwitte. Ons is wel nie van hierdie wêreld nie maar ons is beslis in hierdie wêreld!

Peet van den Berg


 

 

 

Waarom gebruik kinders nie nagmaal nie (Opvolgvraag)

Vraag: Ek reageer graag op 'n antwoord wat u vroeër gegee het op 'n vraag waarom kinders nie nagmaal kan gebruik nie. Ek stem nie heeltemal met u standpunt saam nie. Om mee te begin, wie het besluit dat jy op 17 verstaan waaroor die beloftes wat gemaak is tydens die doop nou ook jou van toepassing is en dan jou geloof bely? Waarom kan ek nie al op 6 of 9 of 11 of 13 of 16 of enige ander oderdom nie? Party mense besef dit eers op 50, ander op so jonk as 6. Ek kan nie dink dat ouderdom 'n bepalende faktor moet wees nie. Solank jy besef dat God jou skepper en verlosser is, dat hy sy Seun na die aarde gestuur het om vir ons sondes te sterf en ons daardeur almal gered is, en dat ons deur ons geloof in God en die verlossing wat ons ontvang, die ewige lewe sal bekom, is ek tevrede. As my kinders of enige persoon dit weet en besef dat die nagmaal die vebond is wat dit bevestig, waarom hulle van die geleentheid ontneem?

Antwoord:
Reg aan die begin moet ek erken: daar is nie ‘n eenvoudige/eenvormige antwoord op jou vraag nie, juis omdat die Gees so wonderbaarlik en uniek in mense werk.  Ek wil daarom slegs antwoord wat die Skrif en die praktyk ons (ge)leer (het).

Ek het heeltemal begrip vir jou vraag.  Immers, die praktyk wys dat sommige kinders wat op 16/17/18-jarige leeftyd belydenis van hulle geloof aflê, nie altyd verstaan het wat hulle gedoen het nie, terwyl ander dit dalk al op ‘n baie jonger ouderdom besef.  Ook wys die praktyk inderdaad dat party mense nie eers op 50-jarige leeftyd dit besef nie, hoewel hulle deur die “aksies” van katkisasie en belydenis-aflegging gegaan het. 
So, ouderdom kan nie die deurslaggewende faktor wees vir belydenis van geloof en Nagmaal-gebruik nie.

Sonder om die antwoord (wat dr. Gert Breed gegee het) oor die gebruik van nagmaal deur kinders te herhaal, net weer die hooflyn van die argument uit 1 Kor.11:17-34:
Uit vers 27 is dit duidelik dat iemand op ‘n “onwaardige wyse” aan die Nagmaal kan deelneem.  Die “onwaardige wyse” het nie daarin bestaan dat hulle nie glo of hulle geloof bely het nie.  Hulle is immers deel van die gemeente en word selfs in 1 Kor.1:2 “geheiligdes in Christus Jesus en geroepe heiliges” (OAV) genoem.  Die onwaardige wyse van Nagmaal gebruik het eerder in hulle (as gelowiges se) liefdelose dade en sondige optredes gelê.
Vgl. vss.20-21: “As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die Nagmaal van die Here wat julle vier nie, want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en ander te veel drink”.  Hierdie liefdelose optrede maak dan van die Nagmaal, wat veronderstel is om ‘n versoeningsmaaltyd deur Jesus se kruis en opstanding te wees, ‘n vergrype teen sy liggaam en bloed, wat dit onmoontlik maak om Nagmaal “waardig” (gepas) te vier.  Om Nagmaal reg te vier, gaan dus nie net oor geloof met die mond bely nie, maar ook geloof wat met die daad geleef word.  Jesus Self sê Mat.7:21: Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here”, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader in die hemel.

Om jou geloof te bely (en Nagmaal waardig te gebruik), impliseer meer as bloot te besef dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat ons deur ons geloof in Hom die ewige lewe het.  “Ons moet die liggaam van Christus onderskei”, se vs.29.  Ek verwys weer na die vorige antwoord (van dr. Gert): Om die liggaam van Christus te onderskei... “hou in dat die volle betekenis van dit wat die Nagmaal beteken en verseel, begryp moet word en toegeëien moet word.  Dit veronderstel geloof.  Geloof berus op kennis (2 Pet.1) waaruit vertroue voortvloei en wat gestalte kry in ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid” (my beklemtoning).   Dit alles veronderstel volwassenheid in die geloof.

Die groot vraag is: wanneer is mens volwasse in die geloof?  Val fisiese volwassenheid en volwassenheid in die geloof noodwendig saam, gebeur dit in dieselfde ouderdom.  Nee, nie noodwendig nie (die praktyk wys dit).  Om ‘n antwoord hierop te kry, moet ons by die opvoedkundiges en sielkundiges kers opsteek.  Waaroor daar redelik eenstemmigheid by die wetenskaplikes is, is dat ‘n kind normaalweg voor 12 jarige ouderdom nog in konkreet-operasionele terme dink.  Met ander woorde, hy/sy kan nog nie abstrak dink nie.  Hulle kan bv. op hierdie ouderdom nog nie die “brood” en “liggaam” van Jesus (soos in die Nagmaal) in verband met mekaar bring nie.  Daarom sou die gebruik van Nagmaal nie die volle begrip en toe-eien (soos hierbo) van Jesus vir hulle hê nie.
Na 12 jarige ouderdom begin abstrakte denke ontwikkel..., en om tot geestelike volwassenheid te groei, is intense Christelike opvoeding (in die Skrif) hiermee saam onontbeerlik. Dis tog logies: om verantwoordelik met God te leef, impliseer tog dat God se (genade)-handele met die mens deur die geskiedenis heen geken word.  Sodoende ontwikkel moreel-etiese denke (natuurlik deur die werk van die Gees), om die betekenis van Jesus se verlossing te verstaan en om keuses te kan maak om ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan God te kan leef.

In die lig hiervan, het die kerke deur die jare heen, geglo dat kinders ‘n bepaalde kurrikulum moet deurloop om genoegsame tyd vir bogenoemde ontwikkeling by die kind te gee.  En die kurrikulum is so saamgestel dat dit saamval met die intellektuele en emosionele ontwikkeling van die kind, wat daarop uitgeloop het dat die kinders om en by op 17/18-jarige ouderdom belydenis (kan) aflê.
Weereens is dit nie ‘n waarborg vir geloofsvolwassenheid nie.  Kinders kan op ‘n vroeër ouderdom reeds al die volwassenheid in geloof bereik het.  Daarom het die kerke nooit “besluit” dat kinders op ‘n sekere ouderdom gereed is nie.  Daar word aan die kinders die geleentheid gegee om op enige ouderdom aansoek te doen om belydenis af te lê (in die Gereformeerde Kerk Randburg, in elk geval).  Dan word die kind ondersoek en ondervra om te bepaal of hy/sy werklik volwassenheid in die geloof bereik het.  Natuurlik impliseer dit (weereens) nie dat die kind “geestelike volmaak” is nie, ook nie dat die groei- en leerproses voltooi is nie.  Ons word immers almal geroep tot voortdurende heiligmaking. (vgl. Heb.12:14)

Ek hoop dat ek hiermee iets van die dilemma aanspreek en ook iets van die kompleksiteit skets.  Skryf gerus weer.

Charl van Rooy
 

Watter kommunikasie kan daar tussen my en 'n gestorwe geliefde wees?

Vraag: My man is dood aan breinkanker. Ek verlang so baie na hom. Sien hy my van bo-af? Weet hy van my verlange na hom? Ek vra God gereeld om my man ‘n drukkie te gee en aan hom te sê dat ek baie lief is vir hom. Ek glo Jesus doen dit en kry troos daaruit. Mag ek dit glo? My rouproses is saam met my Jesus. Ek beleef dit elke dag en kan net juig en loof dat my man by my Pappa is. Hy is gelukkig en pynloos. Dus, mag ek ons Pappa vra om van my man se liefde met my te deel? Ons was so lief vir mekaar en Jesus is ons loof punt. Jesus is die een wat tussen my en my man die boodskap stuur. Dit is hoekom ek sy dood so kalm verwerk.

Antwoord: Jammer ek het so lank gevat om hierdie hartsvrae van jou te antwoord. My persoonlikheid is van so aard dat ek eerder by jou sou wou kom kuier om saam te bid en troos uit die Bybel te deel. Ek het nog nooit so direk hierdie vraag ontvang nie. Ek dink dus saam met jou en al ander mense wat ook hierdie vraag van jou lees. My ma is ook onlangs oorlede. Met my pa se verlange en ons kinders se verskillende emosies, verstaan ek so ietsie kleins van wat jy beleef.

Jou man is weens sy breinkanker liggaamlik oorlede. Dis vir my wonderlik dat jy aan ons Here vashou. Jy verlang geweldig baie want julle was lank saam en julle twee was een. Die “een wees” met die huwelik is nou verander. Jy het heimwee, jy droom van hom en julle saam. Alles van jou en rondom jou is nog julle twee saam. Jy wil gesels met hom, by hom wees, saam lag en huil. Julle was een van siel, liggaam en gees. Wat nou?

Skielik het die Here jou man se gees kom haal en is hy nou voor God se troon. Hy sing, loof en prys die Here. Ja, hy geniet God se teenwoordigheid en heerlikheid. Jou troos, maar groter, jou dankbaarheid is dat jou man nou by God is en dat hy van sy aardse pyn verlos is. Inderdaad is dit ongelooflik! Ek is seker jy sien self net so baie daara uit om na ons Here te gaan in die hemelse heerlikheid te wees.

Jy glo dat jou man se gees by God is en nie meer hier op aarde nie. Die Bybel troos ons juis daarin dat dit so is. Jou man kom ook nie by tye terug na jou nie. Dit is wel ons gedagtes en heimwee wat ons laat voel dat hy soms hier is. Jy wil nou kommunikeer, want dit is wat julle twee vir baie lank gedoen het. (Die Here veroordeel spiritisme (kontak met die geeste van dooies - dit is nie werklikheid nie, maar die Satan wat dit met bedrog so laat voel.)

Jy vra of jou man van bo af jou uit die hemel sien en of hy weet jy verlang na hom? Die Bybel gee nie vir ons ‘n antwoord hierop nie. Party mense sê dat hulle glo dat die een wat in die hemel is, verseker weet wat hier op aarde aangaan. Party mense sê dat dit in die hemel so fantasties is, dat die wat reeds in gees daar is, nie meer nodig het om te weet hoe dit op aarde gaan nie. Prof. De Bruyn, het ons geleer dat dat laasgenoemde die grootste moontlikheid is. Die Bybel sê dat die wat in die hemel is, se fokus en aandag ten volle op God en Sy heerlikheid is. As jy dit nou lees, dan is dit dalk ‘n teleurstelling, leegheid en alleenheid wat jou vang! Die antwoord kan dus wees: dit is dalk moontlik dat jou oorlede man wel weet hoe dit met jou gaan, maar aan die anderkant is sy aandag heelwaarskynlik ten volle deur God in beslag geneem.

Kan ek ‘n boodskap stuur na my geliefde in die hemel? Ek dink nogal baie aan my ma, maar ek besef dat ek nie meer met haar kan kontak maak nie. Sy wat Dimensia gehad het, sing nou tog te lekker voor God se troon. In my geestesoog sien ek hoe uitbundig gelukkig sy by God in die hemel is. Ek gesels wel baie met die Here oor my ma en ek bid vir my pa wat nog lewe. Ek sien hoe hy na sy geliefde oorlede vrou verlang.

Jy kan nie meer self met jou oorlede man kontak maak nie. Gebed vir hom kan ook nie meer plaasvind nie. Wat jy wel kan doen, is om die Here in gebed te dank vir wat julle saam ontvang het en wat jy nou is. Jy kan dus nie voorbidding vir hom doen nie, maar wel die Here loof vir ‘n wonderlike leeftyd saam.

Wanneer ons bid, dan praat ons met God Self. God is almagtig en Hy hoor jou gebed. Verseker is dit vir God moontlik om vir jou man ‘n boodskap te gee. Maar is dit wel hoe die Here wil werk? As jy ‘n boodskap stuur, sal jy moontlik ook weer ‘n boodskap terug wil kry? Weer ‘n keer, die Here gee nie boodskappe na die aarde van hulle wat reeds by Hom in die hemel is nie. God praat self met jou deur Sy Gees en Woord/Bybel.

Die wonderlikste is dat jy met God Self praat. Hy troos jou persoonlik. Stort jou hart uit teenoor die Hom. Jesus Christus is nou meer prominent jou bruidegom omdat jou aardse bruidegom nou by Hom is. Ons Here sal jou dag vir dag dra en jou verhouding met Hom, sal al hoe meer prominenter wees. Jy sal nie jou man sommer net vergeet nie, nee, jy sal troos kry en al sterker word. Die Heilige Gees is jou Trooster en Hy vul jou hele wese (Joh. 14:16,26). Hy gebruik mense wat saam met jou hier op aarde is, om jou te troos en te dra. Hy gebruik medegelowiges en jou geliefdes in die gemeente om vir jou om te gee. Jy gee baie vir hulle en hulle gee baie vir jou. Hier kry ons soveel heerlike beloftes in die Bybel: Jy is Myne (Jes. 43:1); Jou naam is in my handpalms ingegraveer (Jes. 49:16); Niks sal ons van die liefde van Christus skei nie (Rom 8)

Mag die Here jou seën en naby wees. Mag Hy jou troos en dra.

Joop van Schaik

Hoe kan ek my huwelik herstel?

Vraag: Hoe kan ek my huwelik weer kry soos wat dit was.  12 jaar al getroud, dit voel of ek alleen is. My man wil nie met my praat nie

Antwoord:
Ek het oneindig deernis met jou.  Want hoe los mens ‘n probleem op tussen twee persone, maar die een party “wil nie praat nie”.
Ek wil begin deur vir julle ‘n paar Bybelse beginsels ten opsigte van die huwelik te gee (daar’s nog meer).  Die bedoeling hiermee is egter nie om vir jou ‘n klomp voorskrifte te gee as “skietgoed” om jou man daarmee te konfronteer/beskuldig, in die hoop dat dit die probleem sal oplos nie.  Die bedoeling is dat ons net weer verstaan waar die huwelik vandaan kom en wat ons wedersydse optrede daarin moet wees, sodat ons kan sien waarheen ons moet werk.

‘n Eerste beginsel:  God het die huwelik ingestel.  Gelowig moet ons aanvaar dat die Here julle na mekaar toe gelei en saamverbind het.  Julle het dit bely in die belofte wat julle voor God aan mekaar gemaak het.  Daarom mag ons die samevoeging nie sommer verbreek nie.  (Gen.2:21-22; Mat.19:6).  Om aan julle huwelik te werk, is dus nie ‘n “gunsie” wat jy van jou man vra nie.

‘n Tweede beginsel: Huwelik is ‘n permanente verbintenis tussen twee persone waarin albei mekaar se eerste prioriteite is (Gen.2:24).  Dit beteken dat niks tussen julle mag inskuif nie, niks en niemand belangriker sal wees as jou huweliksmaat nie.

‘n Derde beginsel: Binne die huwelik gee die Here vir die huweliksmaats bepaalde opdragte wat verantwoordelikhede (pligte) teenoor mekaar beteken.

  • “Wees daarom uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef.5:21).  Hierdie aan-mekaar-onderdanigheids-opdrag beteken dat julle so volkome op mekaar ingestel moet wees dat die een die ander se geluk belangriker ag as sy/haar eie. Die vrou se opdrag is om haar deur haar man te laat lei ter wille van hul gemeenskaplike belang.  Dit beteken dat die vrou daarop ingestel moet wees om die mooie/beste in haar man te voorskyn te laat kom; eintlik maar dat sy hom moet liefhê soos wat hy liefgehê wil word.  Die man se opdrag is om sy vrou lief te hê, wat impliseer dat hy bereid moet wees om homself (en sy belange) te “kruisig” om haar as vrou te eer en gelukkig te maak. (Ef.5:22 ev.)  Eintlik is dit ‘n tweede onderdanigheidsopdrag aan die man.
  • “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man.  Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.  Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ‘n bepaalde tyd om julle aan gebed te wy.  Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie”  (1 Kor.7:3-5).  Dit gaan hier spesifiek oor die seksuele binne die huwelik en die inhoud spreek vanself.

Die uitdaging is: hoe kommunikeer mens die beginsels as daar reeds al geen (sinvolle) kommunikasie is nie.  Die een manier hoe om dit NIE te doen nie, is dat jy dit as ‘n wet vir jou man (of julle vir mekaar) voorhou en hom  (of mekaar) daaroor verwyt.
 

Die pad wat ek wil voorstel, is die volgende:

  • Jy gaan nie jou huwelik weer sprankel gee as jy ook onttrek of “tit-for-tat” speel, (jouself afsydig hou omdat hy afsydig is), om hom te probeer terugkry nie.  Jy hoef ook nie voor hom te kruip nie. 
  • Maar belangrik, gaan kyk (eers) diep in jou eie hart en optrede in en probeer eerlik antwoord in watter mate jy dalk bg. beginsels oor die huwelik teenoor jou man nie nagekom het nie.  M.a.w, hoe en waar het jy dalk gemaak dat jou man in stilstuipe gaan wegkruip het?  Dalk kan jy nog spesifieke insidente onthou.  As daar is, bely dit vir jou man en voor God, en vra vergifnis.
  • En, as daar dalk nie sulke insidente bestaan nie, onthou: die liefde wat Here van julle vir mekaar vra, is nie ‘n emosionele gevoel van “ek hou van jou omdat jy so oulik of mooi is ....” nie;  dit word ook nie opgewek/ veroorsaak deur iets moois/goeds wat hy vir jou gedoen of gesê het nie: “Ek het jou lief omdat jy dit /dat vir my gedoen het” nie. 
  • Die liefde is ‘n opdrag van die Here en die spesifieke woord vir “liefde” impliseer dat jy ‘n besluit moet neem om hom lief te hê – omdat jy die Here wil gehoorsaam.  Hierdie liefde beteken ook dat jy die besluit neem..., ten spyte van wat hy op hierdie stadium aan jou doen of nie doen nie.  Die mooiste beskrywing van liefde wat ek gelees het, klink so:  Liefde beteken om aan iemand iets te gee of te doen, wat hy/sy die nodigste het..., wanneer hy/sy dit die minste verdien.

Kom ons wees prakties: 

  • Gaan lees gerus deur  liefdesliedere in 1 Kor.13 en Kol.3:5-17 en neem ‘n besluit  (sê in jou gedagte vir jou man): “My man, ek het besluit ek gaan van nou af geduldig met jou wees, jou nie verwyt nie..., vriendelik wees” ens. ens.   
  • Verder: “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied (respek) teenoor mekaar”, sê Rom.12:10.  As dit vir verhouding tussen mense in die algemeen geld, hoeveel te meer vir ‘n man teenoor sy vrou (en omgekeerd) in die huwelik.  Dit beteken letterlik dat julle mekaar se beste vriende moet wees.  Neem inisiatief en doen of reël iets waarvan julle albei hou en  wat julle aan die begin van julle huwelik geniet het – sooswat vriende lekker dinge saamdoen (al is dit nou nie vir jou die lekkerste op die stadium nie).
  • Nog ‘n Skrifgedeelte wat by bg. aansluit en wat jy moet oordink, is Fil.1:9-10: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom”.  Dit beteken: leer sy “liefdestaal” verstaan sodat jy sal weet hoe hy liefgehê wil word en wat hom werklik gelukkig maak.  Bid en vra die Here om jou dit te wys.
  • Doen dit en bly geduldig – daar’s gewoonlik nie verweer teen sulke onvoorwaardelike liefde en goed doen aan iemand nie.

Normaalweg, as jy bogenoemde paadjie loop, sal die romantiek en seksuele sy van julle huwelik ook regkom.  Indien nie, is dit nodig om ook hieraan aandag te gee, bv. watter negatiewe ervaring(s) het gemaak dat hy ‘n seksuele aversie ontwikkel het of wat in julle fisiese verhouding skakel sy gevoel af.

Indien dit wat jy doen, nie die gewenste uitwerking het nie en die kommunikasie bly afgesluit, is dit nodig dat julle saam ‘n pastorale berader gaan sien.  In beradingsessies sal die oorsaak vir sy (emosionele) afwesigheid aangespreek moet word.  Die Bybelse beginsels vir ‘n huwelik sal deurgepraat moet word.  Hy sal begelei moet word om in te sien dat sy afwesigheid direk teen God se bedoeling met ‘n huwelik (in Gen.2:18-25) ingaan..., en ja, dat hy in die proses teen jou sondig.  Die vergewende genade van die Here moet aan hom verkondig word.  Jy moet ook begelei word om te kan vergewe en weer met vertroue julle huwelikslewe aan te pak. 
Jy moet egter ook bereid wees om te aanvaar dat jy dalk (onwetend) iets (aan hom) gedoen het wat julle verhouding skade berokken het en die Here se vergifnis daarvoor ontvang.

Werk onder die leiding van - en in samewerking met die berader ‘n aksieplan uit waarin julle ondernemings teenoor mekaar te maak om mekaar te dien soos in Beginsel 3 (hierbo) verduidelik is.  Julle uitgangspunt moet heeltyd dié van Fil.2:3,4 wees: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van die ander”. 
Dis hoe Christus, ons Verlosser, teenoor ons gedoen het.

Ek bid werklik vir jou en vir jou man, dat Hy julle harte vir mekaar sal oopmaak.  Kontak gerus enigeen van ons dominees as jy (julle) wil kom vir pastorale hulp.
Sterkte.

Charl van Rooy