Back to Top

“….. gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam ...”

Download Audio:

Datum:
2015-05-31
Scripture:
2 Korintiërs 10:1-18
Speaker:
Sermon Notes:

Die stad Korinthe en sy mense. Dit was 'n hawestad waar baie besigheid gedoen is. Hier was baie afgodery en die mense het sedeloos gelewe. Die boodskap van die Korintiërs brief is: Jesus Christus regeer sy kerk en daarom regeer Hy ook oor jou lewe en werk in die stad.

Wat was vir Paulus moeilik en kon sy gedagtes gevange neem? Daar was 'n baie groot aanslag op Paulus se apostelskap en sy roep om die evangelie te verkondig. Dit het beteken dat mense hom wil afbreek. Paulus sou dalk in sy gedagtes kon dink: 'Die mense sê ek is niks. Ek kan maar net sowel ander werk soek'. Tog het die Here Paulus gehelp om sterk te bly staan en sy dienswerk te bly doen.

Wat beteken die "gevange neem"? Letterlik beteken dit dat jy iemand soos 'n misdadiger in die tronk gooi. Jy neem beheer oor sy gedagtes en lewe.

Wat neem jou gedagtes en daarmee jou lewe, gevange? Angs, vrese, jou sondes en die Satan. Waarvoor is jy vandag bang? Watter sondes hou jou gevange en maak jou angstig want dit kan op die lappe kom? Ja, jou gedagtes word vasgevang en dit neem jou lewe oor. Jy is dan die gevangene.

WAT MOET EK DOEN OM UIT DIE GEVANGENES TE KOM?!

Vra eerder dat die Heilige Gees jou help om jou gedagtes gevange te neem. Jy is 'n tempel van die Heilige Gees en die Heilige Gees woon in jou (1 Kor. 6:19). Vra in gebed dat jy die geestelike krag kry om met insig en wilskrag al jou angste, vrese en sondes kan herken, erken en oorgee aan Christus.

Maak jou gedagtes aan Christus gehoorsaam. Jesus Christus was gehoorsaam aan God die Vader deurdat Hy na die aarde gekom het om ook mens te word. Jesus Christus was gevange geneem vir jou angste, vrese en sondes! Hy wat onskuldig was, is skuldig bevind en met die dood gestraf. Hy was in die tronk van hel, vir jou. Jesus oorwin egter die Satan, die dood, die sonde en jou vrese. Hy oorwin jou gevangeskap. Hy het opgestaan uit die tronk van die dood en so oorwin. Jy is nou saam met Jesus ook oorwinnaar. Erken Jesus as jou Koning en vra vergifnis.

Wat is die gevolg?
*   Jy weet: ek behoort aan Jesus Christus!
*   Jesus neem jou angste en sondes weg.
*   Die Heilige Gees lei jou om jou vrese en sondes gevange te neem en dit aan Jesus Christus gehoorsaam te maak.
*   Jy roem, want jy roem in die Here!